ONGELUKSVOËLS

Liewe Persoon,

Hulle sê weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie, maar ek het my bedenkinge. Ek skaar my eerder by die Engelsman wat meen “birds of a feather flock together”. En ek is seker hy praat van ongeluksvoëls. Ek vlieg mos terstond in die voorste linie van hierdie swerm.

Neem nou maar my geneigdheid om op ‘n plat oppervlak oor my eie voete te val. Ja, en meestal terwyl ek iets soos versierde kolwyntjies of bekers vol koffie saamdra. Op skool het ek alewig my kosblik laat val en dan  het die driehoekbroodjies – wat baie netjies in waspapier toegedraai was, uitmekaar gespat en botterkant na onder op die grond geval. Die polonie (wat in daardie jare ‘n baie vreemde skakering van pienk was en wat sweerlik vandag se polonie-pes bloedrooi sou laat bloos) het gevolglik die wêreld vol gespat. En dié onbeplande nadraai het gemaak dat ek maar eerder my botteltjie aanmaak-Oros smiddae by die huis gedrink het, want as ek nog my skoolrok vol koeldrank ook moes mors sou pouse darem baie lank en onguur gewees het.

Maar soos ek sê, ek is maar die voor vlieër van ‘n hele swerm ongeluksvoëls. Nou die dag hoor ek hoe vertel die haarkapper van een van haar kliënte, ‘n bejaarde dame, wat so bad luck het. Reken, teen laat middag loop die tante in haar tuin en kry dit so wrintiewaar reg om op die tande van die tuinhark te trap waar dié veilig teen ‘n muur staan gemaak is. Ja, haar voet was seer, maar nie naastenby so seer soos haar voorkop waar die hark se steel haar ‘n koek hou geslaan het nie. Shame. 

En tog is dit die einde niet (ons swerm is mos altoos berug vir ons epic fails wat vir ons tweede natuur is, amper soos asemhaa vir jou is): Reken, volgens die haarkapper, het dieselfde tannie net nou die dag so ‘n nare onderonsie met haar skottelgoedwasser gehad. Sy wou die skottelgoed wegpak, maar toe sy die deur van die skottelgoedwasser oopmaak gly haar voet op die nat teëls, sy steier vorentoe en maak kop eerste kennis met die skoongewaste breekgoed. Ja, sy het wéér haar kop gestamp, maar die dokter was meer verlig om vas te stel dat die vleisvurk wat in haar long gesteek het nie permanente skade gelaat het nie!

Ek glo nie bad luck is geneties nie, altans ek hoop nie so nie. O, jinne! Ek besef nou eers dat ek en die Juffrou al twee aan die swerm behoort… in teen deel, ek dink ons het platinum membership! DIT IS GENETIES!

Die Juffrou het net mos net so ‘n flair vir die dramatiese soos ek. Sy koop mos ‘n paar sindelike sandaaltjies vir haar gradeplegtigheid. Alles het goed gegaan tot sy op die verhoog moes stap, toe die dekaan haar naam lees toe breek een van die bandjies net daar op die plek! Haar trots stewig in plek is sy toe maar sleepvoet-sleepvoet oor die verhoog, graad en al. So koop sy  haarkleursel op ‘n (ongelooflike) uitverkoping, met tragiese gevolge. Die kleur was vir maande fantasties, maar die bleikmiddel het haar byna poenskop gebrand! Sy moes noodgedwonge ‘n over comb dra, maar genadiglik begin die nuwe hare nou soos donsies by haar slape uitgroei.

Soos ek sê: die skade en skande kom vanself.

Geen pretensie.

Geen beheer.

funny-bird-pictures

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top