As die kroon gly

Liewe Persoon,

Ek lees gister in die Volksblad dat Kroonpark, Kroonstad se eie Sun City, deesdae ‘n kopseer is vir die plaaslike munisipaliteit én die toerismeraad. Dié eens gesogte oord sal glo miljoene kos om reg te maak, want dit wat die vandale nie kon wegdra nie, het hulle afgebreek. Kroonpark se kroon het geglip, en te oordeel aan die foto’s wat saam met die artikel gepubliseer is, is die kroon skoonveld!

Dit is baie hartseer.

In 1992 was Kroonpark dié plek om te wees – veral vir ons Blikore wat mos nie eintlik water gewoond was nie. Jy kon as ‘n dagbesoeker die warmswembad geniet (en wees nou eerlik: kleintyd was ‘n heated pool all the rage), as gesin kon ons ‘n chalet huur (omdat glampingtoe reeds gewild was én omdat Ouma nie ‘n kampmatras sou oorleef nie) of, jy kon soos die destydse mynkaptein –  die een met die vyf orrelpypies, jou Sprite two berth-karavaan haak.

Almal was welkom by Kroonpark. Die braaivleisvure het hoog gebrand. Die katrolle het gesing soos die manne met die babers baklei. Mammies van oral-oor het bakke vol aartappelslaai gemaak en in die son gesit en fotoverhale gelees. Die kinders was in die verhitte swembad.  Die chloor het ons sinusse oopgeskroei en ons het ge-goof tot ons vingerpunte soos gestoofde pruime gekreukel het. Dit was die lewe. Dit was goed.

Die standerd 5-groep van Virginia Volkskool is in 1992 vir ‘n dag Kroonpark toe. Vir ons afskeid. Eers daar, sou ons ‘n Chinese-braai hou en, you’ve guessed it: in die verhitte swembad swem. Ek en die Juffrou het dieselfde costumes gehad: sulke kuise swart-en-wit eenstukke met ‘n laerug en ‘n strukkie op die sitvlak. Ma het vir ons anti-son ingepak met ‘n beskermingsfaktor van 50+ (ons tan nie, ons brand bloedrooi en lyk dan soos gerookte speenvarkies) en ons het nuwe jelly-sandale vir die geleentheid gekoop. Onthou jy daardie deurskynende jelly-sandale met die dik sole? Dit was vreeslik gewild, maar het jou bewegings drasties ingeperk omdat dit jou soos ‘n sandhaai gekarnuffel het.  Anyway. 

Kroonpark se kroon was blink gepoets. Die gras was lowergroen. Die ablusiegeriewe was spotless – die deure het nog almal handvatsels gehad, die toiletpapierhouer was nie met ‘n ketting aan die muur vas nie, daar was seep in die dispencer en jou wraggies Hollandse kant met huisies en blommetjies voor die venster.

As ek vandag terugdink aan toentertyd dan is dit met heimwee en ‘n traan. Kroonpark – of dit wat daarvan oor is, is eintlik net nóg ‘n simptoom van die tye waarin ons leef. Niks het meer waarde nie. Miskien maak ouderdom ‘n mens sinies… As jy die onskuld en sorgvryheid van jou kinderlewe opweeg teen die rat race  van vandag, dan wil-wil ‘n rebelsheid in jou binneste nesskop.

Vandag laat ‘n warmwaterswembad my net aan een ding dink: voetskimmel. Ek gaan nie sommer by ‘n ablusieblok in nie en, jy sien my nie dood in ‘n costumenie.

Het my kroon nie dalk ook geglip nie?

Wat van joune, liewe Persoon?

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top