Afrikaners verhuis nou na 30 gewildste dorpe in die land

Dié lys toon die gewildste dorpe waarheen Afrikaners trek of migreer.

Daar is ʼn bevolkingsverskuiwing onder Afrikaners vanaf ongeveer 300 dorpe oor die land heen na sowat 30 dorpe en stede. Dié verskuiwing neem bykans die vorm van ʼn hedendaagse “Groot Trek” aan. Dit is die gevolgtrekking waartoe ʼn omvattende bevolkingstudie kom wat die afgelope twee jaar deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) onderneem is. Die volledige navorsingsverslag oor waarheen Afrikaners deesdae in Suid-Afrika trek, is vandag in Centurion bekendgemaak en volg op vorige bevolkingstudies wat deur die SNI bekendgestel is.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is Afrikaners se uitdaging nie hul getalle nie, maar veel eerder hul yl verspreiding. “Dit gee daartoe aanleiding dat Afrikaners byna orals in die noorde van die land ʼn minderheid met dieselfde probleme is. Hierdie studie toon dat ʼn natuurlike konsentrasieproses aan die gang is, met mense wat vanself begin konsentreer op ‘ankerdorpe’ wat aan sekere maatstawwe vir volhoubaarheid voldoen,” het Buys gesê. “Hoewel dit kommerwekkend is dat die meeste kleiner dorpe in die land so agteruitgaan dat mense die dorpe verlaat, maak die groter konsentrasie op hierdie 30 plekke beter dienste en groter getalle vir byvoorbeeld die daarstelling en bedryf Afrikaanse skole moontlik en meer volhoubaar.” Die voordeel is dat meer as 80% van die bykans 500 000 lede van die Solidariteit Beweging in en om hierdie ankerdorpe woon en werk.

 

Dienste aan kleiner dorpe

Die grootste uitdaging vir die Solidariteit Beweging is die onmoontlike taak om “staatsdienste” landswyd sonder staatsinkomste en ʼn doeltreffende staatsdiens te lewer. “Ledeorganisasies van ons beweging, soos AfriForum en die Helpende Hand, word daagliks genader om te help met munisipale, maatskaplike, veiligheids-, opvoedkundige en ander dienste aan die gemeenskap. Dit behoefte kan toegeskryf word aan die verswakking en selfs die verval van die staat se dienste op talle plekke in die land. As toekomsgerigte organisasie bied hierdie navorsing vir ons riglyne oor waar ons gemeenskapsdienste kan konsentreer om dit meer volhoubaar en kostedoeltreffend te maak. Weens die toenemende druk op Afrikaans en Afrikaners in die openbare sfeer, is dit onafwendbaar dat die vestiging van burgerlike alternatiewe nodig gaan wees. Hierdie studie gaan ons lei om te weet waar ons moet belê in die toekoms,” het Buys benadruk. Dit stel ons ook in staat om noodsaaklike dienste vanaf hierdie ankerdorpe te lewer aan mense wat in die omliggende kleiner dorpies woon. Dit is insiggewend dat feitlik die hele land binne twee uur se ry vanaf die naaste ankerdorp geleë is. Dit sal die verlening van bystand aansienlik makliker maak.

Raadplegingsproses

Volgens Connie Mulder, hoof van die SNI, is demografie en migrasie ʼn wisselvallige veld wat deurlopend kan verander. Die ankerpunte wat deur die SNI bekendgemaak is, kan dus nie as finaal beskou word nie. “Dit dien slegs as ʼn begin; ʼn bloudruk vir moontlike ankerpunte waar ons as beweging kan belê ten einde ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir die volgende geslagte te verseker,” het Mulder gesê. Dit blyk dat die ankerdorpe mense trek vanweë die betreklike groter veiligheid, beter munisipale dienste, onderwys, gesondheids-, ekonomiese en kulturele dienste wat dit bied. Groter konsentrasies verskaf die ekonomie van skaal om hierdie dienste op ʼn privaat of gemeenskapsbasis te kan aanbied.

Barend Uys, adjunk-uitvoerende hoof van Gemeenskapsake by Afriforum, sê dat die bevinding van die navorsing gedurende die volgende paar maande met AfriForum-takke landswyd bespreek gaan word om seker te maak dat aandag aan alle tersaaklike faktore gegee word. “Ná hierdie raadplegingsproses sal ons in staat wees om die lys van ankerdorpe te finaliseer. Dit sal ons ook in staat stel om te bepaal watter dienste op watter dorpe benodig en moontlik gelewer kan word, en hoe die ankerdorpe ondersteuning aan inwoners van die kleiner dorpe sal moet kan bied.” AfriForum gaan natuurlik volstoom voort om bestaande werklikhede op grondvlak positief te beïnvloed waar ons ook al takke het.”

“As Solidariteit Beweging is ons druk besig om te werk aan tasbare planne wat ons kan uitvoer ten einde hierdie migrasiestrome te ondersteun en in volhoubare ankerpunte te versterk. Ons gaan in Februarie aanstaande jaar ʼn groot beraad oor die aangeleentheid hou. Heelwat meer besonderhede oor watter dienste op watter ankerdorpe aangebied gaan word, sal dan aangekondig word. Ons sal dan ook aandui hoe die Solidariteit Beweging se beleggingsmaatskappy in ankerdorpe gaan belê en hoe so ʼn ankerdorp daaruit gaan sien,” het Buys bevestig.

Volhoubare dorpe en stede sal terselfdertyd ook ʼn raamwerk bied wat met die regering en ander gemeenskappe bespreek kan word om samewerking tussen almal in die land te verbeter. Die moontlikheid bestaan ook dat daar met die regering onderhandel kan word om binne die raamwerk van bestaande munisipale en ander wetgewing, wat voorsiening maak vir spesiale ekonomiese sones, die ontwikkeling van die ankerdorpe as ontwikkelingspunte te beding en te versnel. Planne om buitelandse beleggings vir hierdie ankerdorpe en vir noodsaaklike dienslewering op die dorpe te verkry, gaan ook bekendgemaak word.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top