Lewenslange letsels na rooftog

“Ek weet nie hoe loop ‘n mens die pad vorentoe nie.” In haar woorde sien jy hoe wat gebeur het, stukkie vir stukke vreet aan mense wat die masker van “ok” wees dra, ná iets wat jou lewe so verander.
Jy hoor die naakte vrees in Antoinette Smit, nagskofverpleegster by Sally Martin Park, se stem as sy vertel van die oomblik toe hulle op die grond gelê het en sy gedink het hulle gaan haar teregstel. “Dis vreeslik. Ek het gedink ek gaan my kinders en my familie nooit weer sien nie.”
Antoinette, haar seuntjie, Morné, en verloofde, Johan Nel, was die aand van 20 September midde in die roof by die Riverside Castle in Zwavelpoort, Pretoria.
Die troudag van jou dogter wat deur enige pa as ‘n hartsoomblik gekoester moet word, is vir Johan ‘n rou wond wat weer van vooraf bloei na soveel jare nadat hy en sy seun met doodse angs in vuurwapenlope moes vaskyk op die plaas tussen Wolmaransstad en Ottosdal.
In dagblaaie is hul storie oor en oor vertel. ‘n Troue wat in ‘n oogwink deur ses gewapende mans in ‘n lewenslange letsel verander is. Maar wat leef in jou gedagte na die voorval? Hoeveel wat jou elke dag sien weet van die vrees waarmee jy leef. Weet dat jy midde in die drama was – iewers ver van Parys.
Dit was Almarie, Johan se dogter, se troue. Haar tweede kans. Drie jaar nadat haar man, Maher Hatter in 2015 vermoor is. Drie jaar wat dit haar geneem het om haar lewe te herbou. Haar en Heinrich Pistorius se groot dag.
Die troue was verby. ‘n Klein, intieme familie geleentheid – ‘n dag wat Johan met sy hele hart vir Almarie gegun het.
Meeste gaste het al vertrek. Hulle sou net opruim. Johan het sy skoonseun gehelp om die trougeskenke in Heinrich se Volkswagen Golf te laai.
Net sowat 14 mense was nog daar. Heinrich is eerste terug na die lapa. Toe Johan instap was daar reeds een in die lapa met ‘n pistool. Hulle het klapmusse gedra. Waarskynlik gekom uit die bosse reg rondom die lapa. Hul bekruip.
Johan se eerste gedagte was dat dit ‘n grap was. Toe hy bewus word van die een agter hom, het hy geweet dis so. Een het vir Antoinette gesê om stil te bly, nie te beweeg nie. Hulle moes plat op die grond gaan lê. Skielik was die herinnering van ‘n paar jaar gelede toe Johan en sy seun ook hierdeur is, in pynlike detail in sy gedagtes afgeëts.
Klein Morné het nie dadelik besef wat van hom verwag word nie. Hy’t regop gaan staan voor een van hulle met sy handjies voor hom uitgehou. Gepleit dat hy hulle nie moet seermaak nie. Beloof hy sal vir die rower bid. En asof die man hom wou beskerm, het hy hom met die wapen teen sy kop plat gedruk onder die tafel in en gesê hy sal hom nie seermaak nie. “Just sit still”.
Hulle wou selfone en sleutels hê. Die mans se hande is met breë kabelbinders agter hul rue vasgebind en hul sakke letterlik uitgedop om te kry waarna die rowers gesoek het. Die kroeg is leeggemaak. Al die messe gevat. Selfs die bottermesse om te keer dat hul slagoffers nie die kabelbinders sou kon lossny nie.
Net die sewe maande swanger Almarie is toegelaat om op haar knieë te staan.
Johan vertel hoe hy blitsig nog sy motorsleutels voor in sy broek kon druk.
En toe die skoot afgaan het Antoinette haar vorentoe gewurm en oor Morné gaan lê. Johan se vermoede is dat die skoot afgegaan het toe die rowers gespartel het om Heinrich se motorsleutels uit sy broeksakke te kry. Heinrich is nie gewond nie, maar sy bene was vol skraapmerke van die sement wat opgeskiet het toe die skoot afgegaan het.
“My grootse vrees wat dat dit Almarie of Heinrich was wat hulle tereggestel het. Ek kon nie sien wat aangaan vanwaar ek gelê het nie. My arms was morsdood. Voor my het ek weer die ses gesien met 9mm pistole soos hulle daardie dag vir my en Johan jr. op die plaas aangeval het.”
Die rowers is weg in Heinrich se motor met al die trougeskenke daarin. Die vooruitsig van ‘n wittebrood wat vir eers uitgestel moes word met ook hul dokumente wat in die motor was.
Die grootste dag van Heinrich en Almarie se lewens, wat in ‘n oomblik hul grootste angs geword het.
Niemand het seergekry nie. Die gesteelde goed kan vervang word, maar dit wat Almarie en Johan ‘n tweede keer moes beleef, dit wat Antoinette en Morne en die ander gaste moes deurmaak – dit kan nie uitgevee word nie. “Dit bly in jou agterkop.Volg jou soos ‘n skaduwee. Ek het ‘n permanente vrees vir mense in uniform,” sê Johan, want dit wat hy so helder onthou van daardie dag op die plaas was die polisiepet en koeëlvaste baadjie wat hulle gedra het.
“My seun wou nooit weer op die plaas bly nie. Hy het by Almarie gaan bly in Pretoria om veilig te wees.”
“Ek slaap net twee tot drie ure in die nag. Ek kon dit nog nooit totaal agter my sit nie. Niemand kan vir jou sê om dit agter jou te sit nie.”
Morné is getraumatiseer. As dit skemer word jaag hy ons in, maak alles toe wat kan, en ook vir hom wil die slaap nie kom nie.
“Die groot hartseer, ons kinders is getraumatiseer. Daar is moeite gedoen om ‘n veilige venue te soek, want Almarie is al hierdeur.” En nou moet jy opstaan, jou lewe herbou, want misdaad is deel van ons lewens – ‘n letsel wat bly skaaf

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top