Windverwaaid

 

Hier waai ‘n wind buite wat dreig om my van my sinne te beroof! So ‘n warm en rukkerige affêre: presies genoeg om die nukkerigheid behoorlik in my los te maak.  Praat van befoeterd! Dié wind sal jou wraggies na goedkoop drank dryf. My hele gevoeltenis is al windverwaaid!

Jare terug, toe ons nog in Virginia gebly het (en Pa en Ma nog vir my gesorg het), was die Augustus-winder berug. Dit was stofstorms soos jy nie kan imagine nie. Met so ‘n storm sou die straatligte sommer al vroeg aangesit word (vandag brand dit mos anyway die hele dag) en die skoolbus sou jou voor jou huis aflaai. Meneer Wimpie het altyd gesê dat ‘n nies tydens so ‘n storm, ‘n hele grondherskuiwing tot gevolg sou hê. Destyds kon jy letterlik die sandkorrels tussen jou tande voel. Die gordyne het ook sommer almal dieselfde sandkleur geword en is dit net met groot versugting vir Dominee oopgemaak. En dit is nie ‘n grap nie. As daai stofwolk jou oorval klap jou longe net daar saam en al wat help is ‘n skotteltjie kookwater met Vicks (lees: jy, kop-onderstebo onder ‘n handoek besig om die Vicks-wallems in te…uhm… snuif).

As dit dan boonop nog reën ook tydens so ‘n stofstorm, dan klits die modderdruppels jou behoorlik. ‘n Sambreel help nie. Weghardloop ook nie. Jy moet vasstaan en uithou… en jou lucky stars bedank as dit net ‘n ligte buitjie was. Toe was my grootste prioriteit om in een stuk by die huis aan te kom (met my wilde verbeelding was ek altyd bang dat die skoolbus in ‘n wind-funnel vasgevang sou word en dat ons een-vir-een tot in die nabye dorpe geslinger sou word. Ek in Henneman, die Juffrou in Riebeeckstad…

Nou, jare later, is my grootste prioriteit om wind-se-kind te probeer flous en my deconstructive pixie-kapsel te probeer red. Jy sal nie glo hoeveel werk dit verg om so ‘n deurmekaar haarstyl deurmekaar te kry nie! Dis wax, leave-in sproei, haarsprei en per geleentheid ‘n bobby pin.

Maar om terug te kom by my windverwaaide siel.  As die wind so waai, dan draai my verlange ver. My bui sidestep Vriendelik en voel dadelik tuis by Issigrimmig. Dis maar goed ek is nie die bakleierige soort nie, want dié wind laat appels swaai half na ‘n lekkerte lyk. ‘n Manier om van die ongurigheid ontslae te raak, jy sien.

Dit is ‘n bose kringloop.

Hoe meer die wind om die hoeke huil en kwaai aan die vensters ruk, hoe meer kry ek myself jammer. Arme ek. Hartseer, nostalgies en befoeterd all in one.  Dit is moeilik, man!

Veral nie as die wind nie wil gaan lê nie.

 

 

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top