LABOR IPSE VOLUPTAS

 

Liewe Persoon

Ek kan – tot my eie skok, net dié enkele reëltjie uit Virginia Volkskool se skoollied onthou: ...”Labor ipse voluptas, werk is my plesier!” En ek moet bieg, in 1986 het die Latynse frase baie soos “..Laborib se volop tas” geklink…

Ons het elke saalperiode met die skoollied afgesluit, voorafgegaan deur die volkslied. Dan het  Gesang 47 gevolg. “Op berge en in sandale…” – ja, ek weet nou na baie jare dat  die gesang eintlik niks met bergklim sandale te doen het nie.

Dit was goeie tye (al besef ek nou dat ek my eerste skooljare omgesing het!). Toe ons in sangperiode gesing het oor die groen lande van Natal, die maan wat sak in My Hartjie My Liefie en oor kalwerliefde in Suikerbossie. So nou en dan het Juffrou Elmien ‘n Andrew Lloyd Webber-liedjie afgestof en dan het ons ge-Memory soos niemand op die Cats-verhoog kon droom om te doen nie. En onthou, Virginia het nie  ‘n stadsaal gehad nie, so ons blootstelling aan musiek en toneelspel was beperk. Baie. (Die NG-kerksaal is gebruik vir Sondagskool, kinderkrans en matriek eksamen.)

Soos in die kerk, het sangperiode ook altyd gepaard gegaan met voorsangers. Dit was nou dié siele wat (na bewering) stemme so soet soos heuning gehad het… Juffrou Elmien sit die noot in, en die jonge soprane trek weg met die grasie van, nou ja, van ‘n standerd vier kind. Party van ons kon die noot goed hou en kon darem vir die grootste gedeelte saamsing. Shame. Party ander het weer net met die refrein ingeval. Dit was dan ook die geval met die skoollied. Die hele lied is in ‘n besadigde neurie gefluister tot ons by die volop tas gekom het, toe het die dak amper gelig….seker dié dat die res van die woorde nie eintlik vatplek kon kry nie.

Dan kom jy in standerd vyf en skielik is jy te grênd vir sangperiode. Nee. Dan word briefies uitgeruil, kyse gesmee en wiskunde huiswerk afgeskryf. So nou en dan – voor die jaarlikse kunswedstryd, sou die voorgangers hul solo nommers vir die res van ons pleeg. Dinge was toe al meer complicated.  Mens is mos dan al meer bewus van die in crowd (en die feit dat jy waarskynlik nie na Sonja se verjaardag genooi gaan word nie), en as ek reg onthou was brille en draaitjies toe al deel van die mondering.

Juffrou Elmien het eendag verskriklik met Pieter (ek kan nie sy van onthou nie) in die sangklas baklei – en nie omdat hy nie die woorde van Any dream will do  kon baasraak nie, maar omdat hy ‘n fanbelt in street fighting gehad het en van mening was dat regte mans (standerd 5, rerig?) nie musicals doen nie. En miskien het hy ‘n punt gehad, soos ek sê, ons het nie ‘n stadsaal gehad nie. Ma en Juffrou Elmien was egter van mening dat onkunde en arrogansie boesemvriende was… Pieter het dit nie verstaan nie.

My gunsteling onthou van Virginia Volkskool is waar ons, as haasbek sub-A’s (met lang skoolrokke en kronkel middelpaadjies), op Juffrou Lena se mat gesit het en die Opsitliedjie (van die padda en sy meisie) uit volle bors gesing het – met jazz hands die lot.

Weet jy, liewe Persoon, Virginia Volkskool moes ‘n rukkie terug sy deure sluit. Te min kinders, jy sien.

Ek reken dis ‘n geval van fluit-fluit sy storie is uit…

en dit is ‘n sad song!

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top