VAN NUKKERIGHEID KOM NEDERIGHEID

 

Ken jy daai liedjie van oorle Randall Wicomb, die een van die witbroek? Ja, man! Dink mooi. “Die witbroek sit nie nice nie,  want die witbroek het nie size nie. Die witbroek sit nie mooi nie, want die witbroek het nie plooi nie!”

Ek weet nie mooi hoekom nie, maar vanaf die naweek se dinge bly dié song in my kop speel.  En so saam met die wysie, is daar – in my verbeelding, ‘n man in ‘n safaripak (!) besig om die drumpeldans te doen.

Hoe bedoel jy, jy weet nie wat die drumpeldans is nie?

‘n Drumpeldans kan ook as ‘n nippertjie-nommertjie beskou word. Dit is ‘n danspassie, nes die Madiba shuffle – net anders. Die drumpeldans speel af in stereo en 4D net voor groot gebeurtelikhedeDis nou voor die spreekwoordelike kalf in die put beland. Voor jy die verhoog moet bestyg by ‘n kunswedstryd nadat jy jou bladmusiek in jou tas vergeet het. Net na die bruidspaar die dansbaan geopen het, en jou aangetroude neef reeds onder die prop is.  En net na jou wasmasjien se waarborg verval het.

Nou net so onvanpas soos ‘n wit safaripak is die gewoonte wat die uwe het om met haar hond te wil spog. Die gesegde waarsku mos juis dat jy nooit as te nimmer met jou kinders of jou honde moet spog nie, want skande en skade sal jou beloning wees. Maar ek luister mos nie. Nee. Ek moet eers voel (en ‘n fool van myself maak).

Saterdag neem ek en Steve – die Willemse-pekignese, aan ‘n troeteldierstap deel. Nou vir die van julle wat nog nie vir Steve ken nie: hy verbeel hom hy is ‘n paleishondjie, net soos sy oeroupa in Sjina. Om dié rede meng hy nie graag met ander vierpotiges nie (lees: glad nie). Hy verkies om in sy stootwaentjie (!) rondgestoot te word eerder as om – soos ‘n alledaagse Buksie, Kolletjie of Vlekkie, aan ‘n leiband rondgelei te word. Hy het ‘n krat vol sagte speelgoed. Verskeie frokkies – vir winter én somer. En ja, sy  polar fleece pajama-jurkie is van Superman-materiaal gemaak. Anyway.

Daar bevind ek en Steve onsself Saterdag midde die skare… dis net honde en tekkies waar jy kyk. In fact, ek dink die hele Klerksdorp was daar. Ek verkyk my nog so aan die Labrador met die engelvlerkies en sy eienaar met die fitbit en neonpienk kouse, toe Steve begin kerm. Pekignese kan mos ‘praat’ en die van julle met ondervinding sal weet, as jou Pekignese praat dan luister jy.

Ek haal hom uit die stootwaentjie en net daar gebeur dit: sommer so in die stap. Hy trek sy rug krom en hy kry so ‘n vae en tevrede uitdrukking op sy gesig, so asof hy wil sê ek het jou gesê hierdie is nie ons scene nie, maar jy luister mos nie! Ek besef gelukkig betyds dat Meneer nou sommer – sonder seremonie, die pad uhm… vir die res van die stappers gaan ontwrig en begin dadelik met my nippertjie-nommertjie. Ek pluk met die grasie (lompheid) van ‘n seekooi aan sy leiband en vir ‘n oomblik sien ek erge veragting en judgement in sy ogies. Ek hop, skip en jump en kry hom (en die stootwaentjie) net betyds uit die pad. Maar soos die duiwel dit wil hê, het hy toe reeds sy opinie van dié staptog net daar in die middel van die pad gelos. Nodeloos om te sê, maar met al die dansery het ek toe ook al reeds in sy … opinie… getrap én is ek vir my moeite beloon met ‘n groepsgiggel van omstanders, stappers én ek sweer ‘n grynslag van ‘n chihuahua net ‘n fake fur baadjie.

Ek stap toe die res van die roete met ‘n stywe been.

Teen die tyd wat ek en Steve die eindstreep – wat vir my baie soos die Poly Shortts-opdraende buite Pietermaritzburg gevoel het, bereik het blaas ek toe al soos ‘n vendusie-os. Steve se ogies blink en sy stertjie swaai. Ek probeer vir ‘n tannie met ‘n purple rinse en ‘n poedel met ‘n geel strik waarsku dat Steve nie daarvan hou om deur ander ge-cuddle te word nie, net om so tussen die sweetdruppels te sien dat Meneer op sy rug lê en skoon die bewerasies het soos hy dié tante se gevoefel geniet. Toe die volgende belangstellende nader staan om aan die “oulike hondjie in die pram” te vat, toe laat ek hul begaan. En net daar verander Steve in ‘n bloeddorstige wreedaard en is dit net tande! Dit was so amper-amper of daar was ‘n slagting.

Vir ‘n oomblik het ek gewonder of ek ooit die regte hond raakgevat het tydens my drumpeldans. Ek buk af en terwyl ek hom in die oë kyk – om te vra wat presies sy storie is, toe nies Meneer my bril skoon van my gesig af (soos wat nukkerige pekignese doen). Toe weet ek: ek het reg gegryp. Steve is maar net nie lus vir dié buitemuurse aktiwiteite nie. (Lees: hy sou veel eerder in die son op die sitkamerbank – waar net die dominee sit, wou uitstrek).

Teen die tyd het ek nie meer met Steve gespog nie, en om die waarheid te sê, hy was ook nie meer in ‘n spoggerige bui nie. En toe gebeur dit. Jungle justice, soos my vriendin Aldine sou sê.  Daar skrik Steve die dorpshond sy nukkerigheid skoon weg…

Jy sien, dié geleentheid was ten bate van ‘n plaaslike animal shelter waar verwaarloosde diere versorg word. En dit was juis een van daardie getraumatiseerde perde (wat gered is onderweg na ‘n slaghuis in Krugersdorp-Wes) wat Steve in sy eie opinie laat stik het. Perd-se-kind kom verby en al wat Steve natuurlik sien is die vier hoewe. Hy begin blaf en skree gelyk en die arme perd se maag maak so in die stap ‘n draai. Dié draai gee toe aanleiding tot ‘n gallop en ‘n  bletsstreep waarvan die reuk slapende babas kan wakker maak (en verf van mure laat skilfer). Toe verloor Steve dit heeltemal.

Shame. Ek dink daai perd se maag draai nou nog, nes Steve – die paleishondjie, nog nie weer sy blaf teruggekry het nie. Dat nukkerigheid nou so ‘n nederige nadraai moes hê…

En ja. Ek het my les geleer: ek en my hond, Steve, is nie gemaak vir groepsaktiwiteite nie.  En nee. Ek spog nie, ek  bely dié tekortkoming in alle nederigheid.

 

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top