TROUKOORS

Pa sê trou is ’n lekker ding! My oorle’ Ouma Plaas het weer geglo liefde is blind en trou is die spreekwoordelike bril wat altoos te laat opgesit word. Maar vanwaar dié troupraatjies? Jy sien, Liewe Persoon, dit wil voorkom asof almal skielik troukoors het – ek vermoed dit het iets met die koms van Lente te doen (en die foto’s in Huisgenoot oor Angelique Gerber en Jacques Potgieter se troue).

Trou is ook nie meer wat dit was in Pa en Ma se tyd nie… my eie sussie (Pilletjie) het dan selfs in ‘n pienk trourok die paadjie na die altaar afgestap. As ek egter so na Pa se stories luister, dan klink die romanse van yesteryear vir my baie edel en durf ek sê: opreg (tensy hy die stories aandik en ek dit vir soetkoek opvreet).

Voor die dae van aanlyn vryery en blind dates is ’n troue gewoonlik voorafgegaan met ʼn (verlengde) hofmakery. Die oumense was mos nie haastig nie. Vir die gelukkiges was die opsitkers in die voorhuis iets om na uit te sien, terwyl die muurblommetjies maar met ʼn briefie in die Landbouweekblad se Opsitkers-rubriek tevrede moes wees. Dit was ‘n tyd van handgeskrewe briefies, fyn seëlringetjies en warmgemaakte Datsuns (wat voor elke date blinkskoon gepolish is). Ja, my pa het Brylcreem  gebruik en my ma het ‘n beehive up dogedra…

Maar ten einde laaste het elke pot sy deksel gekry. Vandag ontmoet paartjies in April, raak hulle verloof in Julie en teen Desember staan hulle voor die kansel. Dit is asof daar ʼn ongekende haastigheid is om die strop om die nek te kry.

Ek bly egter ‘n sucker as dit kom by troues. Ek is dan ook gewoonlik die eerste persoon in die kerk wat haastig na ‘n tissue moet gryp. Toe my goeie universiteitsvriendin, Karools, getroud is het ek so gehuil dat ek skaars uit my oë kon sien… die huilery het toe ‘n vreeslik kopseer tot gevolg gehad en needless to say my eerste ervaring as ‘n seremoniemeester sal vir altyd by my spook (lees: ek kon tydens my toespraak glad nie die pa van die bruid se naam onthou nie EN ek het die heeltyd na my pienk notapapier verwys… wat eintlik heldergeel was). Maar dit daar gelaat.

Die realiteit van ‘n troue is egter ver verwyderd van die sprokie wat in die troufoto’s verewig word.

Op die dag van die troue snak almal na hul asem die oomblik as die bruid die kerk instap. Die moeder van die bruid dink haar dogter lyk pragtig en die pa van die bruid probeer uitwerk of dié trourok dan nou werklik so baie kon kos.

Terwyl die dominee uit Korintiërs 13 voorlees kan jy die ander gaste maar dophou, want skielik sak ’n gevoel van verlief-wees op almal neer. Ma en Pa skuif nader aan mekaar, jou tannie en haar eksman loer onderlangs vir mekaar en vir ʼn wyle lyk die bure se rooikopseunskind ook nie te onaardig nie. Daar is altyd ʼn tante wat hartstogtelik aan die snik gaan (dis nou as ek nie by die troue is nie) en ʼn pa wat die kerkbank voor hom met wit kneukels beklou in ʼn poging om sy emosies in bedwang te bring. Soos met die troue van die ontslape Lady Diana, is daar by baie troues ook ʼn gevolg wat almal insluit van susterskind tot aangetroude niggie – almal in dieselfde onvleiende shiffonrokke (alhoewel strooimeisies en bruidsmeisies dit deesdae baie makliker het… dink net terug aan daardie shoulder pads en pofmoue van die 1980’s).

Die groot plesierigheid begin altyd by die onthaal. Die ooms raak dadelik ontslae van hul kerkbaadjies en dasse, die kleingoed maak korte mette met hul kouse en skoene en die tannies soek skuilte teen die middagson terwyl hulle die kerkblaadjie as ʼn waaier gebruik. Deesdae verdwyn die bruidspaar mos vir etlike ure om foto’s te neem – en dit is dan wanneer die gaste te veel sherry drink…

Ná die toesprake en heildronke – waartydens die arme bruidegom in die rede geval word met liedjies soos “Kinders by dosyne” of “Lank sal hul lewe” – word die dansvloer geopen. Dit is nie ongehoord om enigiets van die troumars tot Worsie Visser en Celine Dion op ʼn troue te hoor nie. Daar word tot laatnag geskoffel op die klanke van Kurt Darren en die Klipwerf-boereorkes – of jy nou kan langarm of nie. Hoe later dit word, hoe joliger word die onthaal… Skielik is jou neef se twee linkervoete vergete en kap hy dit uit op die dansvloer soos wyle Fred Astaire.

En skielik is die seremoniemeester aan die woord. Dit is tyd om die bruid se kousband en handruiker te gooi. Dis gewoonlik hier waar al die  ongetroude niggies en nefies en vriende  – al blosend, vorentoe geroep word. Vang jy daardie kousband of handruiker is dit amper ‘n uitgemaakte saak dat jy volgende gaan trou. Die dat ek maar altyd effens eenkant toe staan… ek het nog baie gewig om te verloor.

Teen dié tyd begin die ouerige gaste aanstaltes maak om huis toe te gaan. Nou het die arme seremoniemeester sy hande vol, want hoe verduidelik jy vir familie en vriende van ver dat die tafelruikers reeds belowe is aan die susters van die kerk wat gehelp het om die tee en koffie te skink? Dit is amper al tradisie om so ʼn aandenkinkie of twee van die troue saam huis toe te neem…soos ‘n roomysbak vol kouevleis.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top