Tannie!

Ek sê jou, dit het sommer so oornag gekom – soos pes en skande dikwels doen. Die een oomblik was ek nog  Annette en ‘n oogknip later was ek “Tannie”. Let wel: ek is nie iemand in spesifiek se tannie nie, ek is ‘n tannie in die algemeen!

Dit is vir my ‘n bittere pil om te sluk – amper soos om ‘n Grandpa-poeier in ‘n droë keelgat af te gooi sonder ‘n druppel water. Of soos wanneer ‘n hardnekkige Panado-pilletjie in jou keelgat (of verhemelte) vasslaan… eeeuk! Dit veroorsaak die een rilling na die ander… so al met jou ruggraat af tot in die knak van jou kleintoontjie.

In my kop is ek verseker jonger as wat ek werklik is. En miskien is dit die probleem. Jy sien, liewe Persoon, na my oordeel is ‘n “tannie” iemand wat Oil of Olay (mature skin) gebruik, wat ‘n purple rinse het, wat winter en somer knee highs dra en wat in haar jeug volkspele beoefen het. Iemand soos Min Shaw. Of my tannie Lizzie. In kort: iemand wat die jubilee-uitgawe van Huisgenoot besit, die een met Charles en oorle ‘Diana se troukiekies.

Die groot 40 loer vir my, maar eerlikwaar: in my kop is ek niks ouer as 25-jaar nie. Om die waarheid te sê, dit voel vir my of ek iewers tyd verloor het. Daai 15 jaar tussen my kop en my lyf is vir my ‘n groot bron van kommer…

Maar om terug te kom na my tannie-tirade.

Vanoggend was dit weer tannie-tyd. Die kassier by die kafee – wat sonder twyfel ouer as ek is, het gevra of die “tannie” ‘n plastieksak wil hê. Vir ‘n oomblik het ek gedink sy praat met die ouma  agter my, maar ek is wreed teruggeruk na die werklikheid toe sy vir ‘n tweede keer skree-vra of  die “tannie” ‘n plastieksak wil hê. Uit pure skok (en misplaasde rebellie) weier ek toe ‘n sak – net om al skuifel-skuifel kar toe te loop met ‘n brood en melk onder die arm, ‘n koerant in my regterhand en my handsak en sleutels in die ander hand. Ek het ook ‘n pakkie pepperminte baie behendig (maar uiters onvroulik) tussen my tande vasgeknyp.

Toe bied die motorwag aan om die “tannie” met die arms vol proviant te help dra. Ek het op my tande gekners – deels oor die pakkie pepperminte, en iets gesis wat baie na ‘n outydse fluitketel geklink het. Needless to say, dit  het nie die motorwag afgeskrik nie.

Ek was skaars by die werk, toe huppel daar ‘n skoolkind die kantoor binne. So met die huppel saam trek sy los met ‘n relaas oor hul skool se koerant en ‘n moontlike borgskap. Ek het skaars die kloutjie by die oor toe begin sy met “tannie”. Skielik is haar Sound of Music facade iets van die verlede en sy “tannie” “tannie” “tannie” soos ‘n masjiengeweer. Ek het probeer om ‘n woord of ses in te kry, maar sy het die tannie-aksie so dik aangesmeer soos ‘n grondboontjiebotter- en strooptoebroodjie. Om die waarheid te sê: dit was so traumaties ek kon dié kind nie eens in die oë kyk nie.

Ek weier om vrede te maak met dié ge-tannie-tannie.

Ek werk by ‘n universiteit. As jy wonder wat om my te noem en jou gedagtes dwaal na “tannie”, noem my liewers doktor of professor. Mevrou kan seker ook werk (al het ‘n student my per geleentheid as “Sir” aangespreek in ‘n klasopdrag). If all else fails, noem my sommer net Annette.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top