Bebodderd!

En ja, dit het die uwe ook aan die strot beet. Miskien is dit die seisoensverandering. Miskien is dit die vooruitsig van griepinspuitings en penisillen. Ek weet vir ‘n feit dat my bebodderdgeit deels veroorsaak word deur ‘n toenemende frustrasie in die soeke na ‘n wollerige onesie. Meer spesifiek: ‘n onesie wat ek verder as my knieknoppe kan kry. (Bewese feit: onesies is nie ontwerp vir groter gedaantes nie).Anyway.

Ek verbeel my dat dié bebodderdgeit so saam-saam met die verhoogde BTW en die haas onbekostigbare petrolprys sy verskyning gemaak het. En dan is daar natuurlike die Aussie skuurpapier fiasko. Die gastriese geneuk met polony.  Die grond(ver)gryp realiteit. En, soos altyd: die dreams and schemes van mans (en vroue) in Saxonworld glashuise.

Geen wonder ons is bebodderd nie!

Van saamstaan is daar nie sprake nie. Dit is elke man/vrou/kind en bejaarde vir hulself. Neem nou maar vir Bakkiesblad – a.k.a Facebook. Terwyl ons eintlik in ‘n koue sweet moet uitslaan oor ons inligting soos ‘n uithang onderrok rondhang vir die wêreld om te sien, is ons besig om mekaar met die tong te kapittel. Elkeen het ‘n mening en sorg dat hy daardie mening met mening op ander afdwing. Waar is die dae toe kinders (lees: grootmense met Facebook-profiele) gesien, maar nie gehoor was nie. Moenie my verkeerd verstaan nie: ek is ‘n voorstander van vry spraak, maar ek glo ook (soos Spiderman) dat groot voorregte met nog groter verantwoordelikheid gaan.

Toe ek op skool was, was Tippex amper gelykstaande aan gesnyde brood: dit was gróót! Hoewel die arme onderwysers ‘n verbete stryd daarteen gestry het, het Tippex die oorhand geniet en is alles van Algebra tot Geskiedenis reg ge-ink.  Seker dié dat Juffrou Rossouw altyd gesê het: “Think before you ink!” (Ek dink nou eers daaraan; miskien het sy so gesê omdat sy ‘n nare ondervinding met ‘n tattoo artist gehad het…)  Al dan nie. Die punt wat ek probeer maak is dat ons vandag moet commit voor ons comment. Dat ons moet pause voor ons publish.

Wat help vir die bebodderdgeit? Ek weet eerlikwaar nie, want ‘n quick fix is daar beslis nie. Dinge moet weer in balans gebring word. Die onvrede – wat vinniger as kopluise in ‘n kleuterskool versprei, moet stopgesit word.

My oorle’ ouma Cielie het altyd van ‘respekte’ gepraat. Respekte vir onsself, vir ander, die goewerment en veral vir die sendelinge wat onder die kommuniste moet werk. So moet elkeen van diesulkes ook respekte aan ander betoon. Die gevolg? Saligheid. Rustigheid. ‘n Koesterende versekerheid dat alles wel is met die hier en nou.  Ouma het ook altoos gesê dat ‘n gebrek aan respekte nog die wêreld sal skeur…

Ouma Cielie, ek wonder wat jy van al dié bebodderdgeit sou maak? Jy was toe al die tyd reg, die wêreld is aan die skeur en ons sukkel om verder as die flenters en die splinters te kom.

Die hier en die nou is bebodderd…

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top