Meyerton-karwagte gearresteer

Illustrasie foto

Terwyl die karwagte in aanhouding was, is een voertuig en drie bejaardes se SASSA geld gesteel. Die laaste karwag is eers om 23:30 vrygelaat.

Afgevaardigdes van Private Security Industry Regulatory Authority (PSIRA), het die Meyerton-polisie enkele oomblikke voordat hulle met die arrestasies begin het, in kennis gestel oor hul planne om karwagte wat nie by PSIRA geregistreer is nie, te arresteer.
Volgens wet moet karwagte geregistreer en gekwalifiseer wees om dié soort werk te doen. Volgens mnr. Rudolph de Wet, voorsitter van die Meyerton Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het hulle beheer van die karwagte in Meyerton oorgeneem en karwagte rapporteer aan hulle. “Ons is reeds besig om diegene wat nie aan die nodige vereistes, soos uiteengesit deur PSIRA, voldoen nie, te help om te registreer en hul sertifikate te kry. Hoewel die Meyerton-polisie nie vooraf van hierdie operasie geweet het nie, was hulle houding teenoor die GPF en karwagte tydens die arrestasie-proses baie teleurstellend. Dit het die verhouding tussen die GPF en polisie baie skade berokken,” sê hy. Meyerton-polisie het egter aan die einde van die dag moeite gedoen en gesorg dat almal vrygelaat word.
Mnr. De Wet sê karwagte speel ‘n groot rol in die gemeenskap, nie net om voertuie op te pas en sodoende motordiefstal te voorkom nie, maar ook om op die uitkyk te wees vir ongerymdhede en kleinskaalse diefstal.
Voordat daar karwagte by Golfpark Pick n Pay was, was daar maande wat daar tot drie voertuie by die inkopiesentrum gesteel is. In die laaste ses maande is geen voertuie daar gesteel nie.
Die 16 karwagte is gewaarsku om op 2 Maart in die hof te verskyn. Die saak is egter nie op die rol geplaas nie omdat klagtes eers geëvalueer moes word.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top