Selfbejammering

Liewe Persoon,

Selfbejammering is ‘n lelike ding.

Dit is iets soos ‘n harige moesie op ‘n skerp kennebak. Soos ‘n paar fluweelskoene met nerf-af punte. Miskien selfs ook soos ‘n pedigree poedel sonder ‘n staande afspraak by die hondesalon. In kort: dit is soos om wit sokkies by ‘n swart langbroek te dra.

Maar net so aardig as wat dié gevoeltenis is, so sterk is sy aantrekkingskrag. En ja, as dit kom by selfbejammering is ek ast’ware ‘n lam ter slagting. Ek embrace te maklik, jy sien. My goeie vriendin Aldine sê altyd ek trek myself dinge te persoonlik aan en dan, as ‘n tipiese analitiese linkerbrein denker, raai sy my aan om my interne lokus van beheer te vergroot. Drasties te vergroot. Upsize, please!

Ek en Selfbejarmmering het ‘n lief-haat verhouding. Saam is ons soos ‘n take away pastei en sooibrand. Soos babaolie en seesand. Soos ‘n vervalde lisensiekaart en ‘n padblokkade. It never ends good. 

So verkneukel ek my (al)weer vandag in selfbejammering. Ek voel ellendig (dramatiese sug). My aura is sekerlik gifgroen of galsterige geel (nog ‘n dramatiese sug).  Die lewe druk. Die ekonomie is in die knyp. Suid-Afrika het alweer ‘n nuwe Minister van Finansies. Allan Donald is lank reeds nie meer ‘n Protea nie.  En ja, ek gaan nooit my babavet afskud nie.

Dit het alles met my wekker begin.

Toe my wekker 05:30 aan die blêr gaan, toe druk ek die dismiss-knoppie behendig en pleks daarvan om op te staan, toe dink ek dit goed om nog ‘n bietjie terug te lê. Groot fout. Toe ek 06:30 wakker skrik, toe is dit chaos. Skielik het ek géén enkele kledingstuk wat nie stryk nodig het nie. My yl sliertjies wil nie krul nie, en in ‘n desperate poging probeer ek toe om die spulletjie ‘n goeie tease te gee. My gebrek aan tease ervaring en my oorgretigheid met die haarsproei is nou die rede vir my helmet hair. Trues bob, dit lyk of ek met ‘n motorfiets werktoe gery het en vergeet het om die helm af te haal. Terug by die werk is ek en my haardos toe van die een vergadering na die ander en, telkens is daar iemand wat altoos wil weet of ek iets ‘anders’ met my hare gedoen het!

Elke keer as iemand met ‘n gestrykte hemp of golwende lokke verby my loop dan gryp ek vir Selfbejammering en ons strompel so saam-saam kantoor toe. Ek besluit om iets by die kafeteria te koop om te eet, want eet laat my soms beter voel (Sies! Moenie oordeel nie). Ek besluit op olierige slaptjipsTerwyl ek in die ry staan, laat val ek die bakkie en die helfte van die tjips voeter vloer toe, en jy sien net olie spat. By die sousstasie is al die tamatiesous op en ek het ‘n keuse tussen sweet chilli en sweet chilli. Ek kies toe vir sweet chilli en gee die bottel ‘n druk, net om die sous op my (ongestrykte) hemp te spuit. Nou lyk dit of ek, behalwe vir my ernstige selfbejammering, boonop in die omgewing van my naeltjie gewond is. Swaar gewond is.

Kry jy my al jammer, liewe Persoon?

Ek gee eintlik nie om nie. Want op dae soos hierdie gee niemand mos om nie (of so verbeel ek myself)! Ek en Selfbejammering is vandag BFFs  en niemand sal my anders oortuig nie.

Het ek genoem dat ek vandag reeds twee keer my eie selfoonnommer gebel het… en ‘n telkens ‘n boodskap gelos het!

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top