Dubbele sukses vir SA karp-kampioen en sy spanmaat

Een van die lede van Suid-Afrika se karp hengelkampioen-paar is ’n Parysenaar! Wat meer is, is dat sakeman Johan de Klerk en sy spanmaat en vennoot, G.P. Nel, kon regkry wat nog nooit vantevore reggekry is nie – om as hengelpaar vir twee jaar agtereenvolgens die SA Karphengel-kampioenskappe te wen.
Johan beoefen die sport reeds die afgelope 33 jaar en het al vier keer sy Proteakleure verower – eers in oewerhengel, en nadat hy teen die bestes gekompeteer het, het hy ook sy hand aan karphengel gewaag.
Dit is toe dat hy G.P.,  wat twee keer vantevore reeds ‘n wêreldkampioen in karphengel was, in 2017 genader het
G.P. het in daardie stadium reeds uitgetree, maar kon nie nee sê vir sy sakevennoot in die onderneming Twin Series Fishing, se entoesiasme nie.
Vanjaar se SA Karphengel-kampioenskappe is by Bamboesspruit by Bloemhofdam gehou en is dié twee na die kampioenskappe weer as kampioen-hengelpaar aangewys.
Karphengel is baie intens, vertel Johan, met kompetisies wat 72 uur lank duur (drie nagte en twee en ’n halwe dag). Die kranige  hengelaar beskryf dit as ’n groot uitdaging waarvoor konstant voorberei moet word wat betref strategie en tegnieke, jou psigiese ingesteldheid, maar ook om fisiek fiks en sterk genoeg te wees.
Ná Johan en G.P. se sukses as kampioene in 2017, het hulle reeds gekwalifiseer om aan die Wêreld Karphhengel-kampioenskappe in Serwië deel te neem. Hulle vertrek op 28 September.
Maar voor dan wag die SA-proewe in Maart/April en as hul daar goed vaar, kan hul gekies word om hul land te gaan verteenwoordig by die Karp Wêreldspele wat in 2019 in hul tuiswaters by Bamboesspruit gehou sal word.  Die Karp Wêreldspele word net elke 4-5 jaar gehou, en omdat dit in Suid-Afrika gehou word, is dit ’n unieke en baie groot geleentheid vir enige Suid-Afrikaanse hengelaar wat kwalifiseer.
Johan gesels oor hul aas en vertel dat gesnyde Tiger Nuts (’n Spaanse produk wat hul invoer en voorberei), asook geblikte mieliepitte en wafter (critical balanced bait), vir hom en G.P. vanjaar die meeste sukses by die SA’s gegee het.
Hy was skaars terug van die SA’s toe is daar weer verlede Donderdag begin oefen vir die SA-proewe. ’n Oefensessie is gemiddeld 10 uur langs die hengelwater.
Hy beskryf die Vaalrivier as ’n wonderlike plek vir hengel, en was dit een van die redes waarom hy twee jaar gelede van Bronkhorstspruit na Parys verhuis het omdat die dorp maklike toegang tot ’n verskeidenheid van hengelwater bied.
Om die verskillende aspekte van karp-hengel te oefen waaronder tempo, aanbieding, gooi vermoë en akkuraatheid van gooi, vereis dat hengelaars in verskillende hengelwater oefen.
Johan is lid van die Marico-hengeklub (’n swerwersklub) met Barry Dreyer, ook van Parys, as voorsitter. Die klub is geaffilieer by die Vrystaat.
Volgens Johan is hengel ’n gesinsport waar veral moeite gedoen word om ook gestremdes met verskeie vlakke van gestremdheid te akkommodeer, sowel as hengelaars uit voorheenbenadeelde gemeenskappe. Hierbenewens word die klem ook geplaas op natuurbewaring, en word alle ouderdomsgroepe – selfs meesters (50-60 jaar) en veterane (ouer as 60) die geleentheid gebied om te kompeteer, asook dames en die jeug.
Hyself het begin hengel as plaasseun waar die liefde vir die natuur by hom ingeskerp is, Mettertyd het hy op klubvlak, provinsiaal en toe nasionaal begin hengel.  Maar om ingesluit te word in ’n SA hengelspan is nie maklik nie, sê hy, omdat van ’n baie regverdige en objektiewe metingstelsel gebruik gemaak word waar hengelaars nie onregverdiglik bevoordeel kan word nie. Net die hengelaar se sukses met sy vangs kan die deurslag gee.  Hengel is groot in Suid-Afrika, sê Johan en daarom dat hengelaars ook graag op Twin Series Fishing se Facebook-blad spog met hul vangste. Lesers kan gerus met Johan gesels oor hul hengelervarings op sy Facebook-blad, webtuiste, www.twinseriesfishing.co.za of by 082 495 2957.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top