Emosioneel vernielde kinders – ons grootste nood

Die foto is 'n tyd gelede deur die Gazette geneem waar vrywillige hande in die VVA sopkombuis gewerk het.

Wanneer swaarkry en armoede ‘n gesig en ‘n naam kry, word “nee ek het nie” woorde wat aan jou gewete torring en jou hart ruk. Maar hoe gemaak as die nood deel is van jou dag – elke dag, en jou arms te kort om te help?
Hoe bly jy positief as jy die swaarkry leer ken op die gesigte wat jy sien en wat saans in jou gedagte bly spook as jy huis toe gaan?
Vir maatskaplike werkers van Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) is dit net geloof, en soms selfs ‘n bietjie humor wat die motivering is om met deernis en liefde te luister, te help, te verstaan en te motiveer. Om te onthou dat elkeen na God se beeld geskape is en jy mens bly, selfs in swaarkry.
Tog is dit nie kos of  klere of selfs ‘n dak oor jou kop wat die grootste nood in gemeenskappe is nie. Emosioneel vernielde kinders is ons grootste nood, sê hulle.
Kinders wat deur ouers en die mense naaste aan hulle verniel word met afbrekende woorde en dade. Verwaarlosing. Emosionele nood onder mense wat selfs groter geword het as fisiese behoeftes.
Vir elkeen van hulle, en ook dié wat daagliks by VVA se deure om hulp kom aanklop, is die groot uitdaging om vir hulle weer waardigheid te gee. Waardigheid vir die geboë skouers van tot 45 mense wat hier op ‘n dag toustaan by die sopkombuis om net ‘n warm ete teen ‘n skamele R1 te kan kry. Dikwels die enigste maal vir die dag – en niks oor ’n naweek.
Vir hulle is VVA die plek waarna met hoop, geloof en vertroue gegaan word – die hoop dat die welsyn kan en moet help.
Nood wat in alle gemeenskappe ervaar word en waar VVA oral moet uitreik – of dit Parys, Tumahole of Schonkenville is. Dit terwyl dit nie ’n staatsorganisasie is nie, en staatsubsidie al meer beperk word, en die nood by die dag al groter word.
Hierdie is die swaar maande – Januarie tot Maart, met die skole wat heropen en heelwat statutêre werk wat gedoen moet word. Ook dit is deel van VVA se werk met tot 650 lêers vir voorkomende en statutêre gevalle. Gevalle waar maatskaplike hulp gratis gelewer word ten opsigte van die hof, toesigdienste vir kinders, assessering van kinders en gesinne, pleegsorg van 690 kinders, berading en terapie, en selfs ouerskapplanne vir beheer en toesig teen minimale koste.
Vir hierdie drie maatskaplike werkers en twee hulpwerkers van VVA, verg statutêre dienste en toesigverslae met heelwat opvolgwerk wat gedoen moet word, ‘n groot deel van hul aandag. Maar dit is nie al nie. Tot 30 nuwe aanmeldings word per maand gedoen en wissel van behuisingsnood tot molestering – meestal kinder- en gesinsverwant.
Die meeste probleme waarmee hulle werk is die voorkoming van kinderverwaarlosing, selfs waar klein kindertjies vir lang tye alleen gelaat word, mishandelde en gemolesteerde kinders, onbeheerbare tieners, beheer- en toesigprobleme, afhanklikheid van drank, dwelms en pornografie.
En dan is daar die “bakhand neiging” vandag. Mense wat dikwels nie self verantwoordelikheid wil neem vir hul omstandighede nie, en dan die verwyte dat die maatskaplike werker nie wil help nie.
Maar hoe help ses pare hande, enkele vrywilligers wat nog toegewyd hul kant bring, en geld wat daar net nie meer is, om te voorsien vir elke hand wat vra nie?
Daar is skenkings – mense wat getrou help met die kospakkies met net die nodigste vir tussen 20 en 30 gesinne weekliks, dié wat help met die daaglikse sopkombuis waar tot einde Januarie vir die jaar 2017/18 al meer as ’n    1 000 etes voorsien moes word, en die pakkies vir nagenoeg 12 behoeftige bejaardes. Maar dit is nie genoeg om te kan help nie.
Daar is geen koskaarte meer beskikbaar nie, en die inkomste van R1,2 miljoen vir die huidige finansiële jaar, is nie genoeg om die R1,6 miljoen uitgawes te kan betaal nie. Ja VVA sukkel geldelik, maar dit is die gebrek aan hande om te help wat die grootste nood is. Personeel pak fondsinsamelingsprojekte aan om tekorte aan te vul, maar om projekte aan te bied kos geld, soek hande om te help.
So word daar op 28 Maart vanaf 10:00 basaar gehou by die VVA kantoor in Buitenstraat met ‘n poedingtafel, worsbroodjies, pienk olifant tafel en tweedehandse klere, ’n  naaldwerktalfel waar gespog gaam word met wat VVA vroue al geleer het om met hul hande te kan maak, pannekoek(soet en gevul) en kerrie-en-rys. ’n Groot verrassing wag op die gemeenskap wat Parys nog maande aan die gesels sal hou. Maar ook hiervoor is skenkings en gewillige hande wat bereid is om net ‘n uur of twee uit te reik na ander, broodnodig.
Permanente vrywilligers is daar soos in VVA se SakPas winkel, Koekie van Niekerk en Selina en die helpers in die sopkombuis daagliks tussen 12:00 en 13:00, maar ook soggens wanneer die maaltye voorberei moet word. Marietjie Smith wat elke Woensdag die vroue maar ook  mans van 08:00 tot 12:00 leer naaldwerk doen om ook vir hulself ‘n inkomste te kan genereer. Daar is hulle wat pannekoek bak een maal  per maand, hulle wat die Pienk olifanttafel beman, of help met bejaardesorg by die Sonneblom-klub of tuisversorging van siek en verswakte mense teen betaling. Dan is daar ook nog die behuisingsprojekte vir bejaardes.
Daar is soveel geleenthede waar jy kan help, sonder dat jy ‘n kwalifikasie moet hê en sonder dat dit jou geld uit die sak sal jaag, Al wat jy nodig het is ‘n hart vir ander en jou tyd – selfs net ‘n uur kan ‘n verskil maak.  Enigiets wat jy kan bied – VVA het JOU nodig met wat jy ook al bereid is om te gee of te doen.
Dit is jou hande wat die verskil kan maak. Jou glimlag wat die lyne van swaarkry op ‘n gesig dikwels sonder ‘n naam sagter kan maak met die wete – iemand gee om. As jy kan help as vrywilliger of ’n  bydrae wil maak om ‘n verskil te maak  skakel VVA by (056) 811 2971,  of Sanette by 079 324 0603.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top