Hygend hert!

Liewe Persoon,

Trek die handrem op, of sit ten minste net ‘n klip agter die wiel! Die wêreld wikkel op sy as en almal se varkies wei (saam die koeitjies en kalfies van ons tyd), in  toegegroeide munisipale-parkies.

Ek voel kompleet soos Rip van Winkel wat een middag gaan skuinslê het en, toe twintig jaar later wakker skrik met die wete dat die wêreld halsoorkop verander het. Soos Van Winkel, kry ek terstond ook nie die spreekwoordelike kloutjie by die oor nie.

Fabio is vanjaar 60 jaar oud! (Sê asseblief vir my jy weet wie Fabio is, want ek sal nie die trauma van nog ‘n ontnugtering kan hanteer nie – altans nie sonder medikasie nie). My jonger kollegas pleit bewusteloos oor Neil Diamond en sy Porcupine Pie en prins Harry staan op trou met ‘n diva uit Hollywood. In Sjina het wetenskaplikes twee apies gekloon (wel tegnies is een apie gekloon en sy kloon deel nou ‘n hok met hom[self?]). Platform-tekkies is weer hoogmode en ek hou my asem op vir wanneer kaasdoekhemde (met oprygtoutjies by die nek) weer ‘n draai in die winkels gaan maak. Lets face it, behalwe vir Antonio Banderas (wat ook al aan die verkeerde kant van 50 staan) in Zorro, lyk niemand goed in oordadige kaasdoekskeppings nie. Nee. Dit werk net vir sexy Italianers. Ek en jy lyk soos liggaamsbouers van die Wesrand wat terstond in ‘n bad geklopte room geval het… Enough said.

Net die anderdag verstik ek amper aan my rooibostee toe ek sien dat mens nou wrintiewaar vir jou fake aanplak neushare kan kry. Ja, jy het reg gehoor: neushare! Dan loop jy rond soos iemand wat ‘n donsveer raak gesnuif het. Dit is kamstig mode in Europa, maar ek het my bedenkinge…dit is mos gans te stowwerig in ons kontrei om met so ‘n klossie rond te loop, of hoe?

En, liewe Persoon, het jy agtergekom hoe vinnig tyd deesdae verby ons snel? Daar is nie ‘n manier hoe ek of jy, en selfs ‘n spoedvraat soos Usain Bolt, kan byhou nie. Dit is nog vroeg in die jaar, maar Januarie is reeds iets van die verlede! Ek hardloop al klaar nie meer saam nie, en soek eerder ‘n koelteplekkie onder ‘n boom vanwaar ek dié gejaag kan dophou. Om die waarheid te sê, ek sukkel nog om Krismis se ekstra kilos af te skud (skrik), en die winkelrakke kreun reeds onder nuwe (en baie stywe) wintersdrag. Om my huidige situasie aan jou te verduidelik, imagine ‘n Nataniël turducken:  laag op klewende (vetterige) laag…

Onthou jy toe ons kinders was? Ons was nie onwillig om vir elke dag se lekkerkry te wag nie. En hoekom sou ons? Vir kinders hou elke dag mos net pret en plesier in. Ek weet nie van jou nie, maar ek het nie kleintyd slaap verloor oor Jan Taks nie én ek kon nie minder omgee oor die stand van die plaaslike eenheid nie. Nee. Ons was sorgeloos. Ons was gelukkig.

Ons was tevrede.

En vandag? Vandag laat beleggings ons rondrol in die nag. Die koste van kruideniersware veroorsaak dat ons kopverloor en eerder meer drank as kos koop. Die kinders se skoolfonds gee ons hartpulpitasies. Ouma kort nuwe kunstande. Sussa se matriekafskeidrok dwing ons om ‘n tweede verband op die huis te neem. Petrol is straks duurder as vleis. O, genade… my bors trek skoon toe!

Die wit patent leathers wat ek na my geloofsbelydenis gedra het, is wraggies vandag weer mode (dit nadat my Ma gemeen het dat dié skoene haar altoos aan ‘n melkery laat dink, so met die wit en die blinkgeit saam). Die Juffrou se klassie van tien kinders het oor die jare gegroei tot ‘n massa van 45 jillende kleingoed. Daar is vandag grassnyers met ‘n sterker enjin as my eerste karretjie (Bekkie, ‘n wit 1000cc Chevy).

Net gister was  Pappa nog met ons, en vandag bêre ons die kissie met sy as in die kluis.

Waar gaan alles eindig?

Hygend hert!

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top