Verstik my die wals…

Liewe Persoon,

Ek is bra versigtig vir drama (in enige vorm). En ja, ek weet: dit is ‘n vreemde bekentenis van ‘n oud-joernalis, gegewe die feit dat drama (en trauma) vir ‘n groot deel van my lewe ast’ware my brood en botter was.

In die Namakwaland praat mense altoos van “fyntjies lopers“. Dit is nou mense soos ek, wat nie met voorbedagterade na drama en moleste gaan soek nie. Iemand wat die ambulans se nommer uit haar kop ken (en nie haar eie nie) en, wat altyd seker maak dat indien sy in ‘n groep beweeg sy weet wie in die groep noodhulp-opleiding het. Ek sal daarom nie die persoon wees wat aanbied om die drupsakkie vas te hou of ‘n bloeiende wond te verbind as ‘n mediese-moles sy (dramatiese) verskyning sou maak nie.

Maar, liewe Persoon, nou ken jy ook my geluk in die lewe: ek en drama trek mekaar aan soos weerlig en water. Soos daardie keer toe ‘n vriendin (nou net ‘n kennis) tydens ‘n geselligheid flou geword het en ek aangesê is om ys te bring om teen haar voorkop te hou. Ek het so ge-panic. Ek het vrieskas toe gehardloop en die eerste die beste koue ding  waarop ek my hande kon lê gegryp en dit in ‘n vadoek toegedraai. Ek het teruggehardloop en in die proses die “ys” ‘n bietjies te ywerig op die arme vrou se voorkop neergeplak… en natuurlik toe eers besef dat ek ‘n blok gevriesde maalvleis gegryp het! Shame! Sy was skaars uit haar floute geruk, toe haar oog begin opswel. Dit is nooit gesê nie, maar ek weet; daai shiner het ons vriendskap gekos.

Nou so sit ek die vakansie en televisie kyk saam met my hartsmense. Rustig. Ons eet springmielies en vergaap ons aan ‘n krismisfliek wat handel oor die wel en weë van ‘n dowe hond. Skielik steek ‘n tante van my haar arms in die lug. Die Gautenger in my se eerste gedagte was dat ons die slagoffers van ‘n roof gaan wees en dat sy haar hande in die lug hou as ‘n teken dat sy haar nie teen die booswigte sal verset nie. Toe nie (waaroor ons baie verlig was).

Toe dag ek sy probeer geesvang, jy weet, met die Mexican wave... maar die fliek was hopeloos te hartseer vir so iets. Dit is toe dat my Ma opspring. Die trane loop toe al oor die tante se gesig en ek besef sy is besig om te verstik. My Ma gee ‘n rughou wat John Cena soos ‘n liggewig laat lyk. Die tante hoes, haar oë so groot soos gholfballe. Ek sien dinge gaan vinnig nêrens en besluit om die Heimlich toe te pas.

Nou, neem kennis: Ek weet van die Heimlich en het my nooit as ‘n expert voorgedoen nie…

Ek spring op en gryp die tante om die middel. Ek druk en hop en spring dat die sweet spat terwyl die tante hoes soos ‘n Lister-enjin nie kan droom om te doen nie. Dit is toe dat ek my Ma in die oog kry, en amper het ek ‘n floute van my eie: sy is bloedrooi in die gesig en suig aan haar asmapompie asof haar lewe daarvan afhang. Nou vra ek jou met trane in my oë, wie help jy en wie los jy?

En toe besef ek; my ma is besig om haar skoon uitasem te lag! Seriously?! En so tussen die lagbuie vra sy: “Wil jy met haar dans?” En toe besef ek… ek staan voor my tante en nie agter haar soos die Heimlich maneuver veronderstel is om uitgevoer te word nie. Ek spring om en so gou soos nou toe vlieg daar ‘n springmieliepit deur die lug.

Einde van die storie? My maneuvering het gemaak  dat my tante vir twee dae aaneen mank geloop het en te bang was om diep asem te haal in geval sy ‘n gekraakte ribbetjie (of ses) het.

Ek is net bly ‘n fyntiesloper soos ek kon help.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top