Afrikaans is ’n wonnerlike ding

 

Wat beteken nosel?

Dié van ons wat senior burgers is, sal dalk Chris Blignault se treffer onthou.

O, die donkie. O, die donkie. Die donkie is ’n wonnerlike ding. Hy staan en dink waar die muishond stink. O, die donkie is ’n wonnerlike ding, ens.

En dis toe my kleindogter vir my vra: “Oupa wat beteken ‘nosel’ in Afrikaans?” en ek eers wou antwoord: “Nee, jou klein onnosel, daar is nie so ‘n woord in Afrikaans nie,” dat twee dinge my tref. Eerstens, dis ’n bitter goeie vraag van ’n bitter slim meisiekind (aard bepaald na haar oupa) en tweedens: Afrikaans is ’n wonderlike ding. Toe dink ek aan die wonnerlike donkie.

Wat sy agtergekom het, is dat daar ’n breuk is in die sisteem van Afrikaans. Ons het in Afrikaans reekse (slim mense noem dit paradigmas) wat opposisies uitruk. Ons gebruik die on- met die betekenis van nie in sulke reekse, byvoorbeeld: ‘moontlik : onmoontlik; gerieflik : ongerieflik; gunstig : ongunstig; rustig : onrustig’ en honderde meer. Maar die sisteem werk nie volkome nie. Ons het ‘dom : slim; siek : gesond; mooi : lelik.’ Die on- werk eintlik woordbesparend, want as jy elke opposisie deur aparte woorde uitdruk, word jou woordeskat net soveel groter. Maar met onnosel werk dit nie. Die on- in onnosel beteken nie nie nie, ten minste nie nie nosel nie. So ook nie in ‘onstuimig, onbeskof, ongerep, onbruik’ nie. ‘Onophoudelik’ en ‘onbedaarlik’ werk ook so, maar hulle samestellings is bietjie ingewikkelder.

On- speel in baie woorde in Afrikaans ’n interessante rol. Kyk byvoorbeeld na die volgende sin: ‘Jy het (on)verantwoordelik opgetree.’ On- beteken nie.  Maar in ’n voorbeeld soos: ‘Ek is verantwoordelik daarvoor’, word die on- nie in die opposisie gebruik nie. Ons sê nie: ‘Ek is  onverantwoordelik daarvoor’ nie. En kyk ‘vrolik’ en ‘oulik.’  ‘Onvrolik’ en ‘onoulik’ bestaan nie.

Dat on- soms ’n negatiewe waarde aan ’n woord heg, kry ons wanneer die ma vir haar seun sê: ‘Jy is weer  onmoontlik vandag!’  En wat van onhebbelik. Ek het nog nooit van ’n hebbelike kind gehoor nie, al wens ek alle kinders wil liewer hebbelik wees as onhebbelik. En afgesien van die negatiewe waarde is daar ook van intensivering sprake, vgl. ‘Die kind is gewoonlik soet maar vandag is hy stout’ teenoor ‘Die kind is gewoonlik soet maar vandag is hy onhebbelik’, met ander woorde, baie/erg/verskriklik stout. In hierdie rytjie val ook woorde soos onnutsig.

Net so negatief is on- in ‘ondier, ongedierte, onmens, onding.’  Dan is daar ook nog ‘gure weer’ (slegte weer) en ‘ongure weer’ (nog slegter weer). En die on- in onweer beteken nie nie weer nie, maar juis baie weer.

Maar om terug te keer na nosel. Die Etimologiewoordeboek van Afrikaans gee die geskiedenis van die woord: Uit Nederlands onnozel (al in Middelnederlands). Die tweede lid van die Nederlandse onnozel, nl. nozel, beteken in Mnl. ‘skadelik’. Uit die afleiding ontwikkel die betekenis ‘onskuldig’, daarna ‘sagaardig’ en daarna ‘sonder kennis van die wêreld’ en dus ‘bedrieg, dom’.

Nosel, al gebruik ons hom nie as selfstandige woord nie, beteken dus vandag ‘dom.’ Die on- is dus eintlik net ‘n versterking van ‘dom.’ As julle van nog sulke voorbeelde weet, stuur dit gerus aan my by hestia007@yahoo.co.za.

“My liefste kind, jy kan maar dink jou oupa is nosel, maar hy is nie onnosel nie en definitief nie domonnosel nie!”

 

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top