Hiep! Hiep!

Liewe Persoon,

Pa verjaar môre. Hy sou 70-jaar oud geword het. Hy en ma sou ook so aan die 50ste huweliksherdenking begin raak. Maar ek het jou mos vertel, Pa is weg. En hy kom nie weer terug nie.

Ons gaan nie vroegoggend bel en al die versies – ja, tot dié wat ons self opgemaak het, van “Veels geluk liewe maatjie” sing nie. Daar gaan nie tjoklitkoek wees nie. Ook nie persente nie. Die ode wat ek aan Pa geskryf het – as ‘n mylpaal-verjaardaggeskenk, is nog nie klaar nie.  Die naweek weg wat Pilletjie gereël het, is ook nie meer op die kaarte nie.

Ek skryf vandag vir jou, want môre gaan amper so swaar wees as toe daardie wit bussie van Avbob om die hoek van die kerk weggedraai het… terug dorp toe. Weg. Dit gaan amper so swaar wees soos  toe ons die houtkisse met die goueplaatjie wat lees: Sebastiaan Jacobus Willemse, 1947 -2017, moes gaan haal het. Liewe Persoon, ek dink dit gaan ‘n verskriklike lang dag wees! Papier is geduldig – jy luister en praat nie terug nie. Môre gaan mense wil praat. Hulle gaan dit goed bedoel, maar hulle gaan praat en krap en ek weet verseker dat nie een van ons sal kan kophou nie.

Pa het van verjaardae gehou, nes ek. Dit was oor meer as die geskenke, want face it, wat koop jy vir ‘n super hero? Hierdie jaar sou ‘n viering van die lewe wees – van die soet én die suur. Ast’ware ‘n tyd van rolstoel-rumba, lag-tot-jou-maag-pyn, ‘n onthou-jy-nog van toeka se dae. ‘n Fees van liefwees en dankbaar wees…

Ek is eerlik. liewe Persoon, ek is bang vir môre.

Hoe werk dinge nou?  Bel ek vir Ma en wens haar geluk met haar huweliksherdenking? Brand ek ‘n kersie ter nagedagtenis aan Pa? Wat sê jy vir jou hartsmense – wat nes jy, met ‘n streepsak vol leegheid in hul siel sit? Miskien sal ek Pa se t-hemp – die een met die blou-en-wit-strepe, môre uit die sakkie haal en sy reuk, gemeng met dié van Aqua Velva, indrink. Miskien sal die Juffrou na die geraamde foto van haar en Pa op haar gradeplegtigheid kyk en, sy sal die liefde in sy oë sien blink. Miskien sal Pilletjie na haar eie troufoto’s kyk en sien hoe trots hy langs haar in die paadjie afgestap het. Miskien.

Wat gaan Ma doen? Hoe keer jy ‘n stortvloed van herinneringe van meer as 50 jaar?

Almal sê dit: die verlange raak beter. Ek soek nie beter nie, liewe Persoon, ek soek leefbaar. Ek wil aan my pa dink sonder om te wil verstik aan die werklikheid.

Sal ek en jy weer lekker lag oor vervloeë dae? Ek dink so. Ek weet egter nie wanneer dit sal wees nie, liewe Persoon. Op die oomblik bons daar ‘n eggo in my binneste rond wat dreig om my by tye van my voete af te stamp!

Maar ek maak jou ‘n deal: as jy my toelaat om my Hiep! Hiep! Hoera! hier by jou te los, dan sal ek vir nou my trane afvee. Ek sal rustig raak en vir Ma bel. En vanaand, op die vooraand van DIE verjaardag, sal ek op my knieë gaan en dankie sê vir ‘n man soos my pa: Sebastiaan Jacobus Willemse, 69.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top