Confessions van ‘n klotter-Klaas

 

Liewe Persoon

Ek is ‘n klotter-Klaas. Daar is dit nou: ‘n openbare bekentenis. Ek confess.  Miskien het ek hulp nodig.

Miskien? Ja en nee.

Ja, want om te verhuis is vir ‘n klotter-Klaas erger as om ‘n tand te laat trek. Dit is kompleet asof jy (mede klotter-Klaas) hulpeloos – soos ‘n lam ter slagting, in die tandarts se stoel neergepen word, jou kakebeen oopgerek word en jy daar met jou droë lippe – sonder seremonie óf verdowing, vir ‘n teregstelling wag.

Nee, want hoe anders vang jy ‘n bietjie van die magic van gister vas? Klotter-Klase troetel momentos. Ons bêre foto’s en kaartjies en kwitansies van vervloeë vakansie-joligheid. Ons  bêre dit totdat die lettertjies van al die vat-en-onthou begin om van die papier te kwyn. Totdat ons die woorde en sinne van elke kaartjie kan resiteer. Totdat ons die saligheid van elke onthou weer vir ‘n wyle kan ervaar.

Totdat ons forseer word om te trek!

Pa het altyd gesê dat hy vrees vir die dag as iets soos ‘n aardbewing of ‘n stormwind my nessie sou tref. Jy sien, hy was bekommerd oor my veiligheid en of reddingswerkers my onder die hope goetertjies sou vind. Neem nou maar die kombuis. Ek ken nie ‘n enkele klotter-Klaas wat nie ‘n blik of twaalf bo-op die kombuiskaste uitstal nie.  Ek self het omtrent ‘n morg blikke. My en Pa se siening oor dié versameling het soos dag en nag verskil. Pa was tot met sy dood daarvan oortuig dat die versameling niks anders is as ‘n stof trap was nie. Hy het selfs per geleentheid laat val dat hy van mening is dat daar meer stof op daardie blikke rus as in ‘n droë mielieland.

Pa weet dit nog net nie, maar my nuwe moderne nessie se kombuiskaste strek tot teen die plafon en ek het daarom nie ‘n ander keuse as om my geliefde (maar effens stowerrige) blikversameling vir Ma te stuur nie.

Dan was daar my versotgeid (daar behoort so ‘n woord te wees) met draadkuns. Dié aardigheid het op universiteit begin met die onskuldige aankoop van ‘n draadtassie by ‘n vlooimark. Jy kan maar sê dit is waar die gogga (nie ‘n vlooi) my gebyt het. Ek het draad kershouers, seepbakkies, blomme met gekleurde kraletjies, ringe (wat jou vingers grasgroen vlek) en selfs ‘n draaddonkie. Ek het ‘n draadkat, ‘n draadkrokodil en jou waarlik ook ‘n stel draadtarentale. Pa kon nie verstaan hoe enige “geleerde” persoon soveel op bloudraad kon spandeer nie. Vir my was dit elke sent werd…al is dié modegier al amper 20 jaar iets van die verlede.

Klotter-Klase is wandelende nostalgiese-wrakke. Ek kan letterlik binne minute oor iets nostalgies raak – en dit is dan wanneer die gevaarligte moet begin flikker, want dan koop jy boeke omdat die voorbladkuns jou aan jou laerskool juffrou laat dink. Jy raak opgewonde oor Checkers se mini collectables  want dit herinner jou aan die plastiek teestel wat jy tydens ‘n vakansie in Pearly Beach as geskenk ontvang het. Jy koop sommer twee China shop-handsakke omdat dit ‘n prentjie van ‘n Foxterrier op het – en jou eerste hond was mos ‘n Foxterrier (nevermind die feit dat dié eintste hondjie in die Ooste iewers op ‘n spyskaart saam met kapokaartappels pronk).

En so word ‘n klotter-Klaas se wêreld al voller en voller. Die gisters se onthou wil in die hede uit hul nate bars. En skielik is jy as klotter-Klaas baie benoud: waar gaan ek heen met vandag se onthou? En wat van môre?

Jy hiperventileer, jou oë kyk oormekaar en jy gryp kort-kort na ‘n bruin kardoessakkie. Jy koop nog uitstalbokse en belê in bubblewrap. Jy kyk oor-en-oor na Oprah se Home makeovers om ‘n paar tips te kry oor hoe en waar jy jou skatte kan vertoon (en selfs vir ‘n wyle tot ruste kan bring). Jy droom oor huisbou en van muur-tot-muur boekrakke.

Intussen het jy reeds vier nuwe tydskrifte gekoop om idees te kry. En vanaand as jy in die bed lê en lees, dan ruik jy aan die bladsye en jy oortuig jouself (noudat jy op ‘n drukkersink-high is) dat daar tog nog plek is vir ‘n stel koffiebekers met James Dean se gesig op.

5605852128_f42cba7a12_b

 

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top