Die treurmare van loperige tamatiesous

Liewe Persoon

Daar kom ‘n tyd in elke mens se lewe wanneer jy moet opstaan vir dit waarin jy glo. Party mense verwys na dit as wysheid. Ander sien dit as arrogansie.  Die sulkes wat reeds oor dié gawe beskik meen dit is salig. Ek en ‘n paar ander people pleasers droom van die dag dat ons ook met selfvertroue vorentoe sal tree.

Daar is diegene wat meen dit kom met die ouderdom saam: ‘n soort vrede wat jou vryskeld van die boeie van middelklasgeit en tevrede-wees-met-alles. So asof jy ‘n right of way of ‘n opgeskorte vonnis saam met jou dertig (plus) verjaardag gekry het. Wel, ek dink vandag is DIE dag waarop ek my trots moet sluk en my vuiste moet bal. Wat genoeg is, is genoeg! Ek is al lank in die tand en het al te veel deurgemaak (veral in 2017) om tevrede te wees met dié spulletjie.

Waarvan praat ek? Ek praat van verdunde tamatiesous! Die lewe is eenvoudig té kort en té duur vir loperige tamatiesous. En stilbly is nie die antwoord nie. Hierdie is ‘n euwel wat met wortel en tak uitgeroei moet word.

Vanoggend bespring ‘n belustigheid my (en synde die kafeteria reg langs ons kantoor is), hoef jy nie te wik en weeg as die (skyn)hongerpyne knaag nie. Ek besluit op ‘n klein pakkie slaptjips (asof dit in minder olie gesmoor word as ‘n groot pakke). Ek betaal my 50c ekstra vir tamatiesous (ja, 50c!) en voor ek nog behoorlik my grip om die bottel kon kry, toe loop die waterige spulletjie al oor die toonbank. Van die 36 ryp tamaties wat dit vat om ‘n botteltjie All Gold vol te maak is daar nie sprake nie…

En net daar wil ek my 50c terug hê – uit beginsel! Dit gaan nie oor die geld nie, maar eerder dit waarvoor die geld staan (of in hierdie geval NIE staan nie). Die kassiere is onmiddelik ongemaklik. Shame, sy werk ook net hier. Ek trippel rond soos ‘n diva, terwyl die tamatiesap spat!

Needless to say. Hierdie people pleaser kort nog baie tantrum-oefening. Ek is terug kantoor toe met my pakkie slaptjips in tamatiesop…

Ek ken nie iemand wat nie deur ‘n ernstige tamatiesous-fase was nie (behalwe miskien vir Ma, sy is meer ‘n Mrs Balls-aanhanger).  Die Juffrou het kleintyd selfs tamatiesous op brood gesmeer en het dit op byna alles behalwe hawermoutpap probeer (lees: sy het selfs tamatiesous oor tamaties en groenmielies gegooi).  Ek self hou ook van regte-egte tamatiesous. Dié wat aan die begin stadig-stadig uit die bottel loop totdat jy dit ordentlik skud (soos wat ‘n Staffie met ‘n ou buiteband maak) en dit dan in ‘n stroom (en tot groot vermaak van ander) uit die bottel spring. As jy daardie bottel in die kafeteria onverskillig rondskud kan mense seerkry… iemand kan straks verdrink!

Hoekom word ek kwaad oor verdunde tamatiesous? Vir my is dit soos voorgee. Pretend. Dit is net so goed asof ek voorgee dat ek ‘n nommer 8-rokgrootte dra en dan by die werk opdaag met ‘n stukkie lap wat nie verder as my kennebak kan kom nie. Of nog erger: voorgee om ‘n Blou Bul-ondersteuner te wees by Wimbledon (en dan soos ‘n Blou Bul-ondersteuner daar te sit met my Afrikanerbul mapareka (lees: helmet met bulhorings) ,my koue Kasteeltjie en ‘n sakkie lemoene. Ek en my Isuzu-trokkie met die paar blou dingemaleries (wat onseremonieël aan die tow-bar hang) sal ‘n sorry sight wees.

Fake. Soos vlooimark-parfuum.

… soos loperige tamatiesous.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top