Die agtersitplek van die rooi Skyline

Liewe Persoon

Ek sal enigiets gee om net vir oulaas weer ‘n draai in Pa se rooi Skyline te ry. Om weer op die agtersitplek saam met Pilletjie en die Juffrou te sit – al baklei ons soos kat en hond oor wie in die middel moet sit.

Onthou jy die rooi Skyline. Ons het hom gekry nadat daardie omie by die Vierfontein-vulstasie met sy 1969 Peugeot 404-stasiewa in ons vasgery het – sommer so in reverse, no less. Sjoe! Pa was baie kwaad daardie aand. Ma het gemeen die oom was onder die  prop. Ek het gereken dis ouderdom en hy het bloot deurmekaar geraak met die gears.  Anyway. Dit was die einde van ons beige Datsun Stanza Resort en die begin van die rooi Nissan Skyline.

Die ding oor die wie in die middel moes sit het altoos ‘n struweling afgegee.

Pilletjie het volstek geweier om in die middel te sit, en het die volgende redes voorgehou: (1) Sy is die oudste en in geen land word daar van die koningin verwag om soos ‘n gewone sterfling tussen twee common folk (wat nog op daardie stadium haasbekke en boksterte gehad het) te sit nie. (2) Tienermeisies het hul beauty sleep nodig, en almal weet dat jy nie in die middel kan dut nie. Soos in glad nie. As jy by die venster sit kan jy skuinsdraai, jou boude uitstoot en heel gerieflik ‘n slapie vang. (3) Dit is nie haar werk om “die kinders” (lees: ek en die Juffrou) uit mekaar se hare te hou nie. (4) Omdat sy Pa se lengte geërf het, het sy – na haar mening, die hele truspieëltjie volgesit en kon sy kwansuis Pa se sig belemmer het en daarom ons almal se lewens in gevaar gestel het.

Ek en die Juffrou het nie die luxury van ‘n regverdige verhoor gehad nie, en ons vertoë het op dowe ore geval. Een van ons moes eenvoudig in die middel sit. Dit is toe dat Ma ‘n plan bedink. Dié  plan – in retrospeksie, was meesterlik (hoewel ek en die Juffrou dit nie so ervaar het nie).  Die een wat vrywillig in die middel sou sit, hoef nie die hekke oop te maak nie (dit was lank voor elektroniese hekke). En net voor jy wonder: Pilletjie het by default nie ‘n hek oopgemaak nie. So het ek menig maal in die middel gebroei, want luiheid verdra eerder ongemak as om haar moue op te rol.

Die langpad was ‘n ander storie. Elke Kaapvakansie sou Ma die plan as volg aanpas: Daar was 50c op die spel vir die een wat eerste – tot op Beaufort Wes, in die middel sou sit. Die probleem hiermee was dat Pa altyd die 1000km Kaaptoe in die vroeë oggendure aangepak het, en ons was nog nie eers verby Theunissen nie dan was die middel-passasier reeds die rede vir groot onmin: sy slaap en in haar slaap leun sy oor na óf die een óf die ander kant. Oorlog. “Ma, sy raak aan my kant van die sitplek!” “Ma, sy raak aan my nuwe trui en sy trap my met haar voet!” 

Ek voel dat ek hier moet noem dat ons die 1000km in die geselskap van BZN of Joe Dolan afgelê het. Dit is belangrik dat jy dit weet, want dit gaan later weer ter sprake kom.

Ek was versot op ‘n oop venster – in so ‘n mate dat dit dalk kon lyk asof ek nie vensters gewoond was nie. Ek het soos ‘n opgeskote skootbrak omtrent halflyf by die venster uitgehang (soos Vrystaters maar maak as hulle seetoe gaan), en in die proses vir Pilletjie ontstel – want haar hare het verwaai, die Juffrou laat kla oor wind in haar gesig en, Pa se fountjies laat fluit. Ma het gewaarsku dat die duiwel sommer die deur so midde die ry kan oopmaak en dat ek ordentelik moet sit. Ek was bereid om ‘n kans te vat… en by dit alles het ek het soos ‘n draaiorrel gepraat en gesing. Nonstop. 

Die gepratery en gesingery (erken dit: jy het ook al op die tune van Joe Dolan se “Hush, hush Maria” saamgesing) het my mede-passasiers skuins gestem. Dis nou na ons gestop het vir hardgekookte eiers, pasteitjies, droëwors en tamatietoebroodjies. Dit is dan – gewoonlik iewers in die Karoo, dat ek weereens met 50c omgekoop is om in die middel te sit. ‘n Ekstra 50c is bygevoeg as ek van die een dorpie tot die volgende kon stilbly – of ten minste sagter sing.

Voor Pa weg is het hy eenkeer gesê dat sy grootste wens sal wees om net eendag weer die langpad te vat, in die truspieëltjie te kyk en sy drie dogters op die agtersitplek te sien sit. Dit is my wens ook, en ek sal sonder moeite óf omkopery aanbied om in die middel te sit. Ek belowe om nie te sing nie.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top