Oor ruiters, ridders en rillings

Liewe Persoon,

Wat gaan ek doen? Iewers daar buite is ‘n ridder op ‘n witperd oppad hierheen, en ek is banger vir ‘n perd as vir die badkamerskaal. Trues bob! Perde gee my die rillings. En met ‘rillings’ bedoel ek nou nie dat ek gril nie, maar eerder dat ek op ‘n (baie) verkeerde manier hoendervleis kry. Dit slaan binnetoe… ampers soos masels.

Verstaan jy?

En ek het probeer… om my vrees en gepaardgaande rilling to oorkom. ‘n Vriendin van my – ‘n ruiter van formaat, het my jare gelede vir ‘n piekniek by haar ryskool genooi. Ja. So tussen die perde waar hulle wei. Wei perde?  Anyway. Daar sit ek en sy toe met ons driehoek-toebroodjies en kraffie koffie. Ek het maar swaar gesluk – nie omdat die brood droog was nie, maar omdat dit wrintiewaar gevoel het of die perde ons omsingel het. En toe? Toe gaan staan my hart amper!

Toe ek weer sien toe is perd-se-kind se kop hier neffens my en eers gee hy ‘n nies wat ‘n grondverskuiwing in Noordwes na kinderspeletjies laat lyk, en toe hap hy – so oor my skouer, my hele toebroodjie! Ek weet nie wat die ergste was nie: die perdesnot in my nek (en oor) of die opgetrekte bo-lip en gekners van tande terwyl hy die broodjie smul.

Later jare het ek, Pilletjie en die Juffrou besluit om die grootmens-ding te doen en alleen – as susters, vakansie te hou. Ons is sak en pak na ‘n (gesogte) wildsplaas in Mpumalanga.  Daar aangekom besluit Pilletjie en Juffrou dat ons terstond ons stadskoene moet uittrek en ons name moet opgee vir ‘n middernagtelike wildbesigtigingstoer en ‘n ekskursie die vlaktes in…te perd.  Ek het woes wal gegooi oor laasgenoemde, maar the tribe had spoken.

So daag ons drie – wat nie een die titel ‘ ruiter’ eers behoort te uiter nie, op vir die ekskursie. Ons en omtrent die res van Gauteng (ek kan mos nie naam weggooi sonder ‘n behoorlike gehoor nie).  Die toergids wil weet of almal ‘gemaklik’ is met perdry en of daar straks iemand is wat ‘leiding’ gaan nodig hê. Net daar besluit ek dat ek nie my einde – al geloppende, op die rug van ‘n perd wil nader nie. Ek steek my hand op en erken ruiterlik dat ek nie ‘n ruiter van ‘n muiter sal kan onderskei nie.  Pilletjie en die Juffrou – wat heimlik in dieselfde bootjie as ek was, gryp elkeen ‘n perd en maak of hulle my van geen kant ken nie. Skielik is dié twee mos so bekend en bedrewe met ‘n perd soos twee Durban July jockeys.

Wat volgende gebeur sal vir altyd in my geheue inge-ets wees. Die toergids lei ‘n blinkswart perd nader wat soos iets uit ‘n Harry Potter-film lyk. Dit is maklik die grootste perd wat ek in my hele lewe gesien het. Paniek pak my beet. Hoe op aarde gaan ek op dié perd (ek sou eers later leer dat dit ‘n Friesperd was) se rug kom? Ek sê jou , liewe persoon, daardie perd was huge. Ek dink tot vandag toe dat hy my nie eens gesien het nie: sy kop het bo myne uitgetroon en ek was ooghoogte met sy knieë. En asof almal nie al reeds vir my gestaan en wag (lag) het nie –  en ek geen idee gehad het hoe die Juffrou en Pilletjie op hul onderskeie perde se rue gekom het nie (lees: elke vrou en wannabe-ruiter vir haarself), word ek toe sonder seremonie na ‘n klein verhogie geneem vanwaar ek my perd vanuit ‘n hoogte moes bestyg.

Ek het my amper doodgeskaam.

Met almal (die uwe inkluis) in ‘n saal, het die eksursie begin en so ook een van die lekkerste lag-dae van my lewe. Nee. DIE lekkerste lag-dag van my lewe. Sien, terwyl ek en my swartblink reus kop en skouers bo die res uitgetroon het (en omtrent tot in die volgende week kon sien), het  Pilletjie en die Juffrou se perde vir groot sports gesorg.  Ek glo tot vandag toe dat dit ‘n klassieke geval van jungle justice was – omdat hulle my gelos het en blootgestel het as die enigste sot sonder perdry ondervinding.

Die Juffrou se perd was doodgoed en goed dood. Sy het hom in die lieste ge-nudge en gewoel dat ek naderhand benoud was hy trek met haar weg en ons sien haar nooit weer nie. Maar het hy gereageer? Nee. Dié perd – wat seker die roete al met toe oë kon aanpak, het hom glad nie laat aanjaag nie – in fact, hy het sommer op die plek rus gekry. Elke paar meter moes die toergids vir die Juffrou en haar hings loop haal. Ek het natuurlik onbevange en soos ‘n versteurde gekraai van die lag (en skoon van die res van die toergroep – wat hulle aan my verkyk het, vergeet).

Pilletjie het weer ‘n aweregse merrie gehad. Heel gepas, het ek gedink. Dié perd het weer heeltyd alternatiewe roetes probeer volg, met Pilletjie wat soos ‘n Chappie aan ‘n skoolromp aan die teuels klou. Ek onthou dat ons almal by ‘n Salpeterboom gestop het om die sout van die blare te bekyk (ek kan nie onthou of ons die blare belek het nie), en wat doen Pilletjie – ten aanskoue van die toergroep? Sy en haar perd stap doodluiters verby ons almal en stop ‘n paar meter verder met hul rugkant na die groep. Met die aanskou van hulle boude en blaaie – letterlik, gaan ek mos so aan die lag dat ek amper die twee verdiepings van my perd se rug af val. Pilletjie het hier en daar en oral aan die leisels getrek en met haar tong geklik, maar die merrie wou niks weet.

Ek kan nie veel van die res van daardie vakansie onthou nie, maar ek giggel steeds kliphard as ek oor daardie dag dink. Is ons na dese ruiters? Nee.  Sal ek side saddle ry saam ‘n ridder? Ek twyfel. Ril ek steeds as dit kom by perde? Ja… maar ek smile al die pad.

funny-horse-quotes

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top