Welkom in Parys

In die droë weste van ons land praat hulle van Inkommers. Dis die mense wat nie daar gebore is en grootgeword het nie, maar later daarheen verhuis het. En in die barre westeland hou hulle dikwels met ’n  glimlag dop hoe die inkommer sal inpas en aanpas.
Soms waai hulle sommer gou, maar daar is ook van hulle wat wortelskiet en bly en lief word vir die wêreld. Dis van hulle wat gesê word: Jy huil twee keer. As jy daar aankom en as jy daar moet weggaan.
Ek is so ‘n inkommer in Parys, so ’n paar maande gelede.
Ry jy in die hoofstraat van Parys, is die opvallendste seker die talle winkels wat antieke stukke verkoop. Dis seker die grootste versameling van oudhede vir die oppervlakte wat dit beslaan in die hele land. Waar die handelaars aan al die ou goed kom, bly vir my ’n raaisel, maar ek sal nie die boer die kuns afvra nie. En dis nie sommer net ou goed nie.
Daar is fantastiese ou meubels, skilderye en vele meer. Die pragtige vertoonkaste, beddens, tafels en stoele en wat nog, laat my dink aan my kinderjare. Dit was die ameublement op die ou erfplase waaraan ons as kinders ons verstom het. Dié van ons oupas en oumas. Want die geslag daarna het stad toe getrek. Almal kon nie op die plase bly nie.
Maar terug na Parys. Ek is nuut hier en hier is die eerste geweldige indruk: Parys se motorbestuurders is sig-sag-mense. Ek het my aanvanklik verstom oor hoe hulle heen en weer, uitswaai-uitswaai ry. Tot ek ‘n voorband verloor het toe ek té vinnig deur ’n poel water, wat eintlik ’n donga was, gery het. Nou is ek ook ’n  sig-sag-ryer. En ek voel sommer tuis. Ek word nie alleen geteister nie.
Maar dis nie net die oudhede winkels wat my verstom het nie. Ek wonder of daar nog ‘n plek in die land is met soveel kruidenierswarewinkels per vierkante kilometer. Binne ‘n paar blokke van mekaar af sit Pick en Pay, Checkers, Shoprite, en Choppies. En dan is daar ook nog op omtrent op elke hoek en nog tussenin ook regte “grocery shops”.
Maar wat lekker is vir ’n  inkommer is die hartlikheid en vriendelikheid van die Parysenaars. Oral groet almal, tot die vullisverwyderaars roep my ’n  hartlike goeiemôre toe wanneer hulle hardloop-hardloop die sakke aandra.
Dit is soos Bloemfontein was baie jare gelede toe ons van die Rand af daarheen verhuis het. Maar Bloemfontein het ook ‘n stad geraak en al hoe meer onpersoonlik.
Ek neem aan dis hoekom baie mense sê hulle wil nêrens elders woon as in Parys nie. En dit maak ook Parys ‘n besoekersparadys.
Dit is die atmosfeer wat baie hierheen lok. Want as jy klaar gekyk het en hopelik gekoop het, is dit nie net die interessante winkels en eetplekke en oornagplekke wat jou bybly nie. Dis ook die mense, mens-mense, wat jou weer en weer teruglok.
Welkom in Parys!

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top