HIER TE LANK EN DAAR TE KORT…

Deur Annette Willemse

Oktober 24, 2017

Liewe Persoon

Ek het tot my eie ontsteltenis ontdek dat niks inderdaad average is nie. En met average meen ek nou ‘standaard’ of soos die Sjinese meen: “…one-size-fits-all” (laasgenoemde word ook verbloem met die woorde “free size”, wat my baie aan free range laat dink, wat my weer laat dink aan die bekende sê-ding: ek lyk so lekker, want ek eet so lekker!). Dit hier gelaat.

So betrek ek ‘n nuwe nessie. Alles is nuut en modern. Ek bloos so bietjie in die groot glas stort (lees: dit voel of ek in ‘n vertoonvenster moet skrop en skuur, en dit net met seepskuim en ‘n gesigmasker vir betaamlikheid), maar troos myself daaraan dat ek ten minste ‘n ruim vertoonvenster het en daarom vrylik kan bokspring as ek die koue kraan te groot oopdraai. So spog my nuwe badkamer ook met ‘n bad. En dit is hier waar ek die les van gemiddeldes ontbloot as net nog ‘n propagandiese leuen. Dis reg, liewe Persoon, ‘n leuen ge-formulate om die gekkegrens te toets.

So tap ek my nuwe bad vol water. Met badskuim. En ‘n ‘n goeie skeut laventelolie om die dag se stres en skuinsgeit te besweer. Dis net kerse waar jy kyk, want face it: na ‘n lang dag op kantoor wil jy nie onder ‘n skel buislig ‘n kopseer vertroetel nie. In kort, ek was so gretig om in dié versinnebeelding van my eie Turkse bad te klim, soos Chad le Clos in die swembad na ‘n besering.

En skielik is dit net water en (drywende) kerse waar jy kyk! Ek word weggeruk van die saligheid van ‘n Turkse bad tot in wrede werklikheid van Vanderbijlpark… en daarmee saam die skokbesef dat ek in die bad sit en dat die badwater en badskuim nou in die gang klots. Die bad is te klein vir my. Hopeloos te klein.  En nee, dit is nie net vanweë my gesonde beenstruktuur nie.

Die bad is toe wraggies nie standaard nie! Ek wikkel die prop met my toon los, en net daar word ek in dié badjie vasgesuig met ‘n force second to none. Gelukkig het die laventelolie die badjie (en my beenstruktuur) geolie en ek kon met moeite myself loswikkel. Nou hier moet ek bieg: ek was op ‘n stadium bang ek staan op uit die bad en lig die huis se vondasie saam met my op…

Daar staan ek toe en bibber langs die nie-standaard bad. Enkeldiepte in die water. Dankbaar om met my lewe – en my velle, daarvan af te kom.

Ek het eerlikwaar nie geweet dat boukontrakteurs deesdae sulke kabouterbaddens verkies nie. Niks is (meer) average nie. Ons leef in ‘n wêreld (met badkamers) wat óf uitspattig groot is, óf ellendiglik klein is. Skatryk óf brandarm. Barbiepop-mooi óf ‘n mooi persoonlikheid. ‘n Hemelbesem óf ‘n potjierol. Hier te lank óf daar te kort.

Average? Nooit gesien!

 

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top