Só verloor onnies hul drome en passie

Besorgde onderwyser van die Vaaldriehoek skryf:

Wat is Onderwys? “Onderwys omsluit die onderrig en aanleer van spesifieke vaardighede asook ander minder tasbaar, maar moontlik meer ingrypend: die oordrag van kennis, positiewe oordeel en goed ontwikkelde wysheid.”

Volgende: Wat is dan ‘n skool? ”‘n Skool is ‘n instelling waar onderwys verskaf word. Onderwysers gee lesse en hou toesig oor die leerproses waartydens leerders geskool word.”

Wat is ‘n leerder? “’n Persoon wat leer, veral aan ‘n skool.”

Dít is seker drie van die belangrikste begrippe die afgelope paar weke in die media, op die nuus, sosiale media, kantore en personeelkamers.

Maar hoekom is die drie temas dan nou so belangrik? Die antwoord is maklik – want om ‘n onderwyser te wees en onderrig te gee aan leerders binne ‘n skool is vandag nie meer moontlik nie.

Elke dag dink ek aan die selfde vraag wat my al 1000de male gevra is: Hoekom is jy ‘n onderwyser?My antwoord was nog altyd: As ek in net één leerder ‘n jaar se lewe ‘n verskil kan maak, dan het ek my werk gedoen. Vir my was dit nog altyd meer as net boekekennis. Dit was empatie, dit was emosionele bystand en die oplig van leerders wat al soveel keer afgebreek is en in stukke gelos is. Vir my was dit om daai een leerder te help waarvoor niemand kans sien nie en hom te wys hy kan ‘n sukses wees. Maar vandag het dit alles verander. ‘n Stilstand het binne my gekom. My drome, my passie is weg.

Onderwysers is die mense wat die fondasie lê vir die toekoms. Hulle bou jaarliks die boublokke op sodat ‘n leerder graad 12 kan verlaat met ‘n pakket van sukses. Ons oordrag van kennis en positiewe oordeel oor waardes en norme los ‘n pad in daai spesiale kind se lewe en verander ‘n ommekeer. Maar dis tot niet. Vandag baklei ons ‘n ander “fight”. Vandag is ons nie meer onderwysers nie. Ons is die slegste van die sleg. Op ons kan gevloek word, geskree word. Goed kan uit ons hande gegryp word, ons kan uit die pad gestamp word, met waterballonne op kort afstand direk op die borsbeen gegooi word en dan nog uitgejou en getart word. Dis ons professie. Dis nou ons “droom”. Ons huidige realiteit.

Ons hande is afgekap. Hoe baklei jy teen sulke leerders? Staan jy vir jouself op, is jy ‘n rassis. Jou menswees, jou menswaardigheid, jou “jy-wees” word verkrummel tot stof en weggeblaas want wie is jy nou eintlik?

Dis hoe dinge verloop in skole soos ons s’n. Elke dag bring meer drama. Dromme word aan die brand gesteek, asgate vat vlam, leerders loop rond met wapens. As jy gesuip is, nog beter.

My vraag: Wanneer hou dit op? Wanneer is genoeg genoeg? Waar gaan ons kinders eindig wat nog ‘n toekoms moet hê? Waar gaan die “onderrig en aanleer van spesifieke vaardighede asook ander minder tasbaar, maar moontlik meer ingrypend: die oordrag van kennis, positiewe oordeel en goed ontwikkelde wysheid” plaasvind?

Onderwysers is moeg. Elke dag vrees ons vir ons lewens en besittings. Hoeveel aanvalle was daar nou al in twee weke by skole! Waar trek mens die streep? Is die eerste streep ‘n oproep na die ambulans… “my personeellid is aangerand of dood”?

Dié is ‘n noodkreet aan die distrikte, onderwysdepartement, hoofde en beheerliggame. Steun julle personeel. Maak hul hande sterk en stel hul eerste. Moenie hulle wegjaag en weggooi nie. Onderwysers is belangrik.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top