Spanning – kyk wat dit aan jou doen

Almal van ons word daagliks blootgestel aan spanning. Binne perke is spanning belangrik want dit laat ons in aksie kom en presteer byvoorbeeld wanneer ons ’n  werkstuk moet ingee, maar sodra spanning buite beheer raak kan die effek daarvan vernietigend wees. Spanning raak buite beheer wanneer dit chronies raak, met ander woorde dit hou aan sonder tye wanneer daar geen druk is nie.
Die huidige situasie waarin ons verkeer dra by tot geweldige spanning, veral binne die werkplek.
Algemene bronne van spanning binne die werkplek sluit in: lae salarisse, oordadige werkslading, min geleentheid vir groei en bevordering, werk wat geen uitdaging bied nie, gebrek aan sosiale ondersteuning, gebrek aan beheer oor werksverwante besluite en onduidelike verwagtinge oor prestasie binne die werksopset.
Die invloed van spanning by die werk spoel oor in alle aspekte van ons lewens omdat ons nie die gebeure by die werk summier kan ignoreer of afskakel nie.
Korttermyn blootstelling aan oormatige spanning veroorsaak hoofpyn, maagpyn, slaap versteurings, kort humeur en swak konsentrasie.
Chroniese spanning veroorsaak angstigheid, slapeloosheid, verhoogde bloeddruk en verswakte immuniteit. Die probleem word gewoonlik vererger deur ongesonde gewoontes soos emosionele eet (ooreet wanneer spanning toeneem), ongesonde eetgewoontes, rook en die misbuik van alkohol en ander substanse.
Hoe gemaak om te oorleef te midde van alles?
Weet wat jou spanning veroorsaak:
Hou dagboek vir twee weke en kyk watter situasies vir jou gespanne maak en hoe jy daarop reageer. Wie was betrokke, waar en wanneer? Hoe het jy reageer? Word kwaad, gaan soek iets om te eet, gaan stap. Vind die patrone tussen die spanning en hoe jy reageer.
Leer gesond reageer:
Kies doelbewus om beter te reageer. Vervang ongesonde kitskos met gesonde alternatiewe wanneer jou stresvlakke toeneem. Oefening is die beste manier om spanning te beheer – selfs net om vinnig om die blok te stap sal help. Wat maak jou gelukkig? Maak weer tyd vir bybelstudie, om iets te lees, te kuier of speletjies te speel met jou gesin. Slaap genoeg – dit is bewys dat die kwaliteit van slaap beter is tussen 9 en 12 uur snags en dat mens meer uitgerus sal voel die volgende dag. Sit die rekenaar, selfoon en ander elektroniese media af sodat jy kan ontspan.
Stel grense:
Tegnologie maak dit vandag moontlik om 24 uur aan die gang te wees en daarom moet jy grense vaslê. Dit mag beteken dat jy nie beskikbaar is vir werksoproepe na ses saans nie.
Neem tyd om te herlaai:
Die beste manier om te verhoed dat jy uitbrand is om tyd sones te skep waar jy kan afskakel en spanning kan laat val na normale vlakke. Hierdie “afskakel” beteken dat jy nie werk of dink aan werk nie. Neem vakansie wat jou toekom en waar moontlik skep geleentheid waar jy net terugsit en asem skep. Leer om werk by die werk te los wanneer jy die deur vanaand toetrek. Dit is hierdie vaardigheid wat beteken dat jy môre optimaal sal kan funksioneer.
Kry ondersteuning:
Maak tyd vir familie en vriende want dit is hulle wat jou sal kan ondersteun wanneer spanning toeneem. Neem deel aan aktiwiteite by die kerk. Nader jou toesighouer as jy probleemareas binne die werkopset identifiseer wat jy nie kan beheer nie. Gebruik programme binne die werkplek wat ondersteuning aan werknemers bied. Indien jy reeds so oorweldig voel dat jy nie kan funksioneer nie , het jy dalk professionele hulp van ʼn sielkundige nodig.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top