Siggestremde rolbalspeler stap weer met nasionale titel weg

Salome Morries en haar afrigter, Jaco Ludick, het albei medaljes vir hul wenplekke verower. “Sonder Jaco sou ek dit nie kon doen het nie. Hy wys my met sy voet waar om die bal te gooi,” het sy gesê.

Salome Morries en haar afrigter, Jaco Ludick, het albei medaljes vir hul wenplekke verower. “Sonder Jaco sou ek dit nie kon doen het nie. Hy wys my met sy voet waar om die bal te gooi,” het sy gesê.

‘n Siggestremde rolbalspeler van die omgewing, Salome Morries (61), het verlede week weer eens met ‘n nasionale titel weggestap.
Morries en haar afrigter, Jaco Ludick, albei lede van Fochville Rolbalklub, het van 1 tot 5 Augustus aan die Suid-Afrikaanse rolbalkampioenskappe vir gestremdes
by Discovery in Roodepoort deelgeneem. Hulle het in die B4-afdeling vir siggestremde spelers teen deelnemers vanoor die land meegeding. Spelers met ander gestremdhede,
soos dié wat fisies gestremd is en in rolstoele is, het ook in hul eie afdelings  deelgeneem.
Morries het ander deelnemers in die stof laat byt toe sy met ‘n goue medalje in die dames-enkelkampioenskap uit die stryd getree het. Morries en Gladys Mbele van
Soweto het ook brons medaljes in die pare-afdeling ingepalm.
Omdat ‘n siggestremde speler en hul afrigter as ‘n span saamwerk, het Ludick ook dieselfde medaljes verower.
Morries speel al sedert 1988 rolbal en het reeds met verskeie nasionale titels weggestap. Sy het ook al ‘n silwermedalje tydens die wêreldkampioenskappe ingepalm.
Wat haar prestasie nog meer besonder maak, is dat Morries vir ‘n tyd nie die sport voluit kon beoefen nie, omdat sy twee jaar gelede ‘n nieroorplanting moes ondergaan.
Morries het haar skenkernier van ‘n rolbalvriendin, Carika Steyn, ontvang. Morries en Ludick is nie net mede-spelers nie, maar ook mede-werknemers by die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit.
Toevallig is Morries ook in verlede week se Herald genoem.
In die Herald van 20 jaar gelede is berig dat sy by die 1997 SA rolbalkampioenskap vir blindes in Durban ‘n eerste plek in die B3-afdeling behaal het en Suid-Afrika die komende September in Zimbabwe sou verteenwoordig.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top