Uit my dagboek: Pappa se kind: Jaloerse boetie

“My dadda, my dadda, my dadda!”
Dit was die geskreeu waarna ons almal moes luister toe ek my broer se seun Owen, opgetel het. Ons het almal gaan ontbyt eet en klein Owen was onrustig. Ek het aangebied om hom te sus sodat sy ma haar kos kon klaar eet. Ek het hom redelik kalm gehad, tot Aiden gesien het dat sy pa ’n ander kind vashou.
Hy het so erg geskreeu en gehuil dat selfs Owen weer begin huil het.
Die mense om ons het met groot oë na ons gestaar met die twee huilende kinders – een wat plat op die vloer voor my gaan lê het en die ander een in my arms. Ek kon sien hoe giggel die mense in hulle moue vir die situasie. Ek is seker die mense wat so gegiggel het, het self nie kinders nie.
Die ander mense wie se kinders saam met hulle daar was, het my simpatiek aangekyk. Hulle het geweet wat besig was om te gebeur.
Al hoe ons die situasie vinnig kon ontlont, was om vir Owen aan my skoonsuster terug te gee en dat ek vir Aiden optel. Daarna het hy my oral saamgesleep. Hy het seker gemaak ek gaan nie weer naby sy nefie nie.
Aanvanklik was ek bietjie gevlei, aangesien my seun my so liefhet dat hy my net vir homself wil hê. Ek het egter eensklaps besef dat baba nommer twee op pad is. Wat as hy dieselfde jaloesie wys met die nuwe baba? Ek kan ’n spottende gluur van vreemde mense hanteer, maar twee kinders wat aldag huil omdat ek die een optel en nie die ander nie, mag my dalk net oor die muur dryf.
So wat nou? Sal ek albei van hulle op die heup moet hê? Beurte maak? Ek het besluit ek gaan myself nie daardeur sit nie. Aiden moet maar net leer deel. Seker makliker gesê as gedaan, maar kom ons steek daardie brug oor wanneer ons by hom kom. Wens my sterkte toe!

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top