Hengelaar laat skaal met bielie van ’n 132 kg tuna kreun

Jan-Hendrik Delport glimlag breed met sy Blouvin-Tuna vangs van 132 kilogram wat hom as die wenner by die Gordonsbaai Offshore Classic bepaal het.

Jan-Hendrik Delport glimlag breed met sy Blouvin-Tuna vangs van 132 kilogram wat hom as die wenner by die Gordonsbaai Offshore Classic bepaal het. Foto: Verskaf.

Talle vissermanne het al na ‘n goeie vangsessie gespog oor die massiewe vis wat hulle al inkatrol het, maar hulle kan maar hul kop in skaamte laat sak wanneer hulle Potchefstromer Jan-Hendrik Delport se ware verhaal hoor.
Na drie ure se gewroeg en gespartel is daar ongelooflike vrede en vreugde in Jan-Hendrik se hart. Hierdie ervare hengelaar en sy span op die boot Artemis weet hulle het ‘n grote uit die diepblou seewater by die Gordonsbaai Hengelklub se Furuno Offshore Classic-kompetisie getrek. Die skaal se lesing bevestig en oortref hulle diepste verwagtinge – die Blouvin-tuna weeg ’n asemrowende 132.05 kilogram en besorg aan hom die titel van algehele wenner sowel as ’n stewige kontantprys van R100 000.
“Dit was nog altyd my droom gewees om die Classic te wen en op my vierde jaar het ek en my span dit reggekry. My vorige beste was maar 85 kilogram (Geelvin-tuna) en nou het ek hierdie groot 132 kilogram een uitgetrek. Dit was ‘n besondere vis en my eerste Bloufin Tuna ook!,” vertel Jan-Hendrik opgewonde, wat by hierdie kompetisie vanaf 29 April tot 6 Mei die vangs gemaak het. In hierdie kompetisie was daar omtrent 30 bote en 130 hengelaars wat vir dié gesogte titel op die seewater baklei het.

“Wat die vir ons ekstra spesiaal gemaak het was dat ons wat nie by die see bly nie, die Kapenaars ‘n ding of twee wys! Die kersie op die koek was toe ons die R 93 000 ekstra op ‘n veiling ook vir die wenboot bygewen het,” sê Jan-Hendrik.
Dit is nogal ‘n taak en ‘n half om Jan-Hendrik se 132 kilogram bielie van ‘n tuna te vang, en die Artemis-span van Jan-Hendrik, Leon Koekemoer, Lukas Kolbe, Andrew Mobsby, Dean Versace, Toni Tonks en Justin Berry (skipper) moes behoorlik al hulle kennis en vaardighede gebruik. “Daar is twee metodes om vis te vang op die diepsee. Een metode, wat ons gebruik het is om te troll.
Hier sit jy kunsaas (Rapalas) uit wat jy agter die boot sleep om die tuna te trek. Hierdie tuna het die kunsvissies gebyt en toe ek die stok vat wat 80 pond lyn en 500 meter lank is, het hierdie vis amper al die lyn van die spoel afgetrek.” “Wat hierdie vangs ook nog moeiliker gemaak het was dat die lyn om die vis se stert gedraai het en ‘n mens die vis van sy stert sy kant af inkatrol. Sodoende swem die vis nie saam met die lyn nie, maar juis in die teenoorgestelde rigting. Toe die vis by die boot kom, het dit vier manne gevat om die vis oor die kant van die boot te trek.
Dis vis kon ook nie in die visboks kom nie, omdat dit so groot was,” noem Jan-Hendrik met ‘n glimlag. Hy het dié tuna 30 seemyl van Kaappunt af gevang (70 kilometer) en dit het sy span twee en ‘n halwe ure gevat om weer land te tref. Die span wat tweede gekom het met hulle vangs van 122 kilogram, sou op enige ander dag gewen het, maar hierdie was Jan-Hendrik-hul se beurt om te skitter.
“Die weer het ook ‘n groot rol gespeel en ons was gelukkig om op die eerste dag al dié vis te vang. ‘n Mens moet maar altyd die weer dophou en weet waar om jou lyn te gooi.

Jan-Hendrik Delport glimlag breed met sy Blouvin-Tuna vangs van 132 kilogram wat hom as die wenner by die Gordonsbaai Offshore Classic bepaal het.

Jan-Hendrik Delport glimlag breed met sy Blouvin-Tuna vangs van 132 kilogram wat hom as die wenner by die Gordonsbaai Offshore Classic bepaal het. Foto: Verskaf.

Jan Hendrik bedank ook sy span en skipper waarsonder hy nie die een kon wees wat die magtige vis uit die water kon trek nie. Hierdie een keer in ‘n leeftyd gebeurtenis sal altyd ‘n spesiale plek in Jan-Hendrik se hart hê – die dag toe Potchefstromers vir die Kapenaars gewys het waar Dawid die lyne gegooi het.
“Dit was nog altyd ons droom om die Classic te wen.
“Nou is dit realiteit en ek weet nie of ek in my leeftyd weer so ‘n groot vis sal vang nie.”
Interessante feite
•Jan-Hendrik het op die bloedjong ouderdom van drie al ‘n liefde vir hengel aangekweek, danksy sy oupa (Jan) en pa (Kobus) en kort voor lank het hierdie kranige visserman die grotes begin intrek.
•Jan-Hendrik was in 2002 die destydse Potchefstroom Stadsraad se Sportman van die Jaar.
•Jan-Hendrik het sy junior- en senior Proteakleure vir varswater oewerhengel.
•Jan-Hendrik se passie en liefde vir diepseehengel het ontwikkel danksy sy pa wat altyd vakansies in Gansbaai gaan hengel het
•Jan-Hendrik behoort aan die Gordonsbaai Bootklub en met sy betrokkenheid by dié klub het hy al vier jaar vir die Gordonsbaai Offshore Classic-kompetisie ingeskryf.
•In hierdie kompetisie was daar Blouvin, Big Eye, Geelvin en Langvin-tuna.
Die kompetisie word gewen met die grootste Tuna (algeheel) sowel as die grootste Langvin. Leon Koekemoer wat ook deel van Jan Hendrik se span was, het ook die prys vir die derde grootste Langvin-Tuna gekry (19 kilogram).

Diepsee hengel noodsaaklikhede
•‘n Seewaardige boot (Mediese benodighede, lewensreddings-baadjie, noodtoerustig, brandblusser
•Mishoring
•Baie water
•Brandstof (eerder te veel brandstof as te min. Daar is nie ‘n Shell Ultra City op die see nie)
•Genoeg warm klere, sonroom, hoed, sonbril en waterdigte klere en skoene met goeie sole sodat jy nie gly nie
•Die see is onvoorspelbaar en ongelukke kan altyd gebeur, wees eerder oorversigtig.
•Kry ‘n ervare skipper met die nodige kennis om jou veilig heen en weer te bring
•Toerusting (radios, sattelietfoon en radar moet werk om kommunikasie te vergemaklik en veiligheid te verseker)
•Kyk uit vir ander skepe om ongelukke te vermy.
•Begroot: R 2000 per dag per persoon. (as ses mense mense saamgaan) Dit is tussen R13 000 en 15 000 vir die boot per dag.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top