Fliek Vlooi: Resident Evil: The Final Chapter

Die sesde en heel laaste fliek in die bekende Resident Evil-reeks, The Final Chapter, het my emosioneel gelaat.
Resident Evil: The Final Chapter is ’n wetenskapsfiksie, aksie-gruwel fliek wat deel is van die reeks wat in 2002 vir die eerste keer die aksie-gruwel fliekbedryf oorgeneem het. Dié reeks is gebaseer op die Capcom oorlewings-videospeletjie en die flieks het net soveel aksie en spanning soos die speletjies.

Hierdie reeks is boonop wat meeste aanhangers, my insluitend, versot gemaak het op die Russiese aktrise, Milla Jovovich en haar rowwe vegbewegings.

Die wat die eerste vyf flieks gekyk het, sal weet waaroor die oorhoofse storie gaan: ’n dodelike virus is deur die bose organisasie, Umbrella Corp. losgelaat, wat elke hoek en rand van die aarde besmet het, met die gevolg dat die meerderheid van die mensdom vervang is met zombies, demone en monsters.

Alice (Milla Jovovich), wat voorheen vir Umbrella Corp. gewerk het, beveg nou al die boosheid wat die organisasie losgelaat het.

In die finale fliek kry sy inligting dat daar wel ’n teenvirus is wat die dodelike T-Virus vir eens en altyd kan uitwis. Sy nader haar vriende om haar te help om in die hartjie van die Umbrella Corp. te kom om dié teenvirus op te spoor, maar die Red Queen, ’n rekenaarprogram wat die hele Umbrella Corp. beheer, weet dat sy kom. Nou hang dit af van een finale stryd om te bepaal of die mensdom enigsins gaan oorleef en of hierdie Final Chapter, ook die finale hoofstuk van die mensdom gaan wees.

Alhoewel hierdie fliek dalk nie so besonder goed soos van die voriges was nie (want van hulle was uitstekend), was ek steeds amper in trane toe dit eindig.

Nie net oor hoe dit eindig nie, maar ook omdat ek toe besef het dat dit die heel laaste keer gaan wees dat Milla Jovovich, as Alice, in een van die beste reekse nog gaan speel – en dit is nogal ’n emosionele affêre.
Van die fliek self kan daar ’n paar rowwe skrik-tonele verwag word, en die aksie is natuurlik van begin tot einde onophoudelik.

Indien jy nog nie die eerste vyf flieks gesien het nie, doen jouself ’n guns en hou sommer ’n Resident Evil-marathon naweek – dit is beslis die moeite werd.

Ek gee Resident Evil: The Final Chapter 6/10. As ’n fliek op sy eie was dit nie so briljant nie, maar as die afsluiting van ’n briljante reeks, het dit beslis sy doel verrig – om jou te laat wens dit was nie verby nie.+

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top