Uit my dagboek: Pappa se kind – die ‘Terrible Twos’ het aangebreek

Ek en Aiden.

Ek en Aiden.

Mense het ons gewaarsku oor die terrible twos. Ek het my natuurlik nie daaraan gesteur nie.
Hoe erg kan ’n tweejarige kind nou wees om te hanteer? Ek erken nou dat ek ’n groot fout gemaak het.
Die terrible twos gebeur regtig! Dit is nie net sommer een of ander storie wat ander ouers vir nuwe ouers vertel om hulself te laat beter voel oor hulle eie stout kinders nie.
Dit is nie dat kinders stouter word nie, dit is dat hulle slimmer word en meer selfstandig wil wees.
Aiden, byvoorbeeld wil glad nie hê dat ek of my vrou hom voer nie. In sy kop is hy bevoeg genoeg om dit self te doen. Die uiteinde is natuurlik ’n gemors, met kos wat die hele wêreld vol lê, behalwe in sy mond. Hy het ook nou geleer dat as hy oulike goedjies sê en doen, hy amper met moord kan wegkom. Slaaptyd is sy gunsteling tyd om hierdie nuwe vaardighede te toets. Hy gaan lê, kyk op na my met sy blou ogies en in ’n baie vroom stemmetjie vra hy: “Dadda lê?”
Voor ek kan besef wat gebeur, is ek op die mat langs hom. Hy kom lê met sy kop op my skouer, kyk weer vir my en sê dan “hallo Dadda”.
Eers nadat dit al lank verby slaaptyd is, besef ek dat ek in sy lokval getrap het. Nou help kwaai wees nie meer nie. Ek neem my elke keer voor om nie weer uitgevang te word nie, maar tog gebeur dit elke keer.
Sy vermoë om te hoor as ons met hom praat word ook af en toe beïnvloed.
Veral wanneer daar gepraat word van bad, neus afvee of slaap.
Dit is ’n konstante stryd wat met baie gehuil gepaard gaan. Soms vee ek ook ’n traantjie uit moedeloosheid weg.
Daar is geen maklike, vinnige oplossing nie. Baie geduld en asemhaling is al wat ek kan voorskryf.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top