‘Berge en dale ontmoet mekaar nooit nie, mense wel’

kerk, religion

E.R. Meiring – Met God Wandel

Fil. 4:9, “En wat julle van My geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.”

Daar is ‘n gesegde wat lui: ‘Berge en dale ontmoet mekaar nooit nie, mense wel’. Op die aarde word dikwels afskeid geneem. Sommige is baie geliefd, ander intieme kennisse. Die skeiding is soms tydelik, want die moontlikheid is groot dat ons elders mekaar weer sal sien. Die moontlikheid is ook groot dat ons mekaar nooit weer sal sien nie, nie op die aarde nie, ook nie in die hiernamaals nie.

Dit wat ons mekaar moes leer, beïndruk en gesê het, is finaal verby. Daar is egter ‘n ander finale skeiding hier op die aarde en dit is die skeiding van die dood. Dit is gerusstellend om die wete te hê dat hierdie skeiding nie finaal hoef te wees nie, maar dat daar ‘n heerlike herontmoeting gaan wees. Dit is egter ontstellend as mense moet weet dat sommige mense, wanner die dood intree, mekaar nooit weer gaan sien nie. Hierdie twee soorte afskeide het oor koning Dawid gekom. In 2 Sam 12 het hy gevas oor sy kind wat siek was. Toe die kind sterf, het hy opgehou vas en hoewel hy bedroef was, het hy gesê: “Ek kan die kind nie terugbring na my toe nie, maar ek gaan na hom toe.” Hy het geweet dat hy sy kind weer sal sien. Daar teenoor moes Dawid van sy seun Absolom afskeid neem. Omdat hy geweet het dat sy seun ‘n goddelose seun was en dat hy hom op die aarde maar ook nie in die hemel weer sal sien nie, was sy droefheid hartverskeurend toe hy uitroep: “My seun Absolom. Kon ek maar in jou plek gesterf het.”

Sommige geliefdes het ‘n lang siekbed en daar is baie tyd om afskeid te neem. Die afskeid is daagliks en minder hartverskeurend as die wete daar is dat die geliefde weer ontmoet sal word. By die graf van ‘n vader wat deur ‘n geweldenaar skielik doodgeskiet is, is dit vir sy geliefdes hartverskeurend omdat hulle nie eers afskeid van hom kon neem nie. Vir die volwassenes en selfs ook die kinders, is die wete dat daar ‘n weerontmoeting sal wees, ‘n vertroosting omdat die vader ‘n godvresende mens was.

Vir ‘n jong kind wat nog nie alles mooi verstaan nie, is die tydstip wanneer die kis die oppervlakte verlaat, so ‘n finaliteit. Hulle klou aan daardie kis asof hulle hul vader met hulle lewe terug wil hou. Vir buitestaanders is dit hartverskeurend om te aanskou en sou hulle so graag alles vir so ‘n kind wil doen, maar niks sal daardie kinders in die plek van hulle vader wil hê nie.

Later kom daar egter vrede as hulle begin herleef soos in Fil 4:9 sê, “En wat julle van My geleer, ontvang, gehoor en gesien het, dit moet julle doen.” Om in die voetspore van die geliefde te wandel, sal die wete van ‘n herontmoeting, wonderlike vertroosting bring.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top