Uit my dagboek: Pappa se kind: Leer om te vergewe

Ek en my vrou moes onlangs baie strenger optree teenoor Aiden.

Ek en Aiden.

Ek en Aiden.
Nie omdat ons wou nie, maar omdat hy op dié stadium alles wil beproef, veral die grense van wat hy mag en nie mag doen nie. Dit het natuurlik gelei na ’n paar harde woorde en ’n raps of twee op die boud.
Dit is glad nie lekker nie, ek besef nou eers wat my ouers bedoel het toe hulle gesê het die pak wat hulle vir my gee, maak hulle seerder as vir my. Om jou kind so ongelukkig te sien na iets wat jy gedoen het, sal altyd hartseer wees. Tog glo ek dit is nodig om hulle die verskil tussen reg en verkeerd te leer.
Byvoorbeeld, Aiden moet nog leer dat hy nie sy gholfstokke kan gebruik om die honde te slaan nie, dat hy nie sy vingers in die muurprop moet druk nie, dat hy nie van een bank na die ander kan spring nie en dat hy nie altyd sy sin kan kry bloot net omdat hy huil nie.
Maar so baie soos wat ek vir Aiden wil leer, so baie leer hy vir my. Ons is almal geneig om te lank te neem om mekaar te vergewe. Jare gaan verby sonder dat mense met mekaar praat oor ’n grief wat in die groot prentjie nie regtig so baie saak maak nie. Kort nadat ons met Aiden geraas het en hy kalmeer het, kom hy altyd met ’n glimlag terug na ons toe, ’n sagte mamma of dadda, is al wat hy sê. Hy kom sit op jou skoot, gee jou ’n drukkie en dadelik is alles vergewe. Hy kry nie stilstuipe en storm weg nie, hy vergewe dadelik omdat hy lief is vir jou.
Ek besef daar kom nog tienerjare waar die huis kan skud oor die deure wat toegeklap gaan word, maar vir nou leer ek wat my kind vir my wys.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldPotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top